Die artikel op bl 24 oor ouerskap is die motivering vir hierdie week se skrywe oor ouer-kindverhoudings.
Dis John Wilmot wat in die 17de eeu gesê het: “Voor ek getroud is, het ek ses teorieë gehad oor hoe om kinders groot te maak. Nou het ek ses kinders en geen teorieë nie.”
Om kinders groot te maak, is duidelik nie net ’n hedendaagse uitdaging nie. Dit is ’n skrikwekkende gedagte om te dink jy het net een kans. Daar is nie ’n delete knoppie om te druk om van voor af te begin nie. Als wat jy doen het ’n impak op jou kind se lewe. Nadia Tayob is ’n ma van drie kinders wat oor die uitdagings en vreugdes van kinders grootmaak, blog. Haar woorde: “Deur die oë van jou kinders is jy onoorwinlik”, vat ’n klomp gedagtes saam wat die afgelope paar weke in my kop rondmaal.
Op 57 is ek ’n grootmens, maar ook ’n “kind” van ouers. Terselfdertyd is ek ’n ouer van “kinders” wat onderskeidelik 28 en 29 is (grootmense dus). Dis eers as jou eie kinders ouer word en jou begin uitdaag en kritiseer wat jy oor jou verhouding met jou ouers begin nadink. Die dilemma in ouer-kind-verhoudings, dink ek, lê in die feit dat ouers ’n pad saam met hul kinders loop vanaf die eerste ontmoeting ná geboorte (en hulle met geite en al leer ken en onvoorwaardelik liefhet). Aan die ander kant, ontmoet jou kind jou as ’n “ready-made”-grootmens. Dit is dus vir hulle bykans onvoorstelbaar om te dink dat jy ook in ’n stadium klein was en dat jy ook uitdagings, onsekerhede, vrese, bekommernisse, spanning, teleurstellings en twyfel het. Só ontstaan die verwagting by kinders dat ouers bomenslik is en altyd onoorwinlik en onfeilbaar moet wees.
Ouers ken hul kinders van altyd af, maar daar is gemiddeld 30 jaar van ouers se menswees waarvan hul kinders niks weet nie. Soos wat kinders ouer word, kom hulle agter dat hul ouers toe nie die bomenslike wesens is wat hulle gedink het nie en ook maar allerlei geite en bagasie het. Dis een ding om dit te weet, maar om dit in die praktyk toe te pas, is ’n ander saak. ’n Mens vergeet kort-kort dat jou ouers ook net mense is en jy verwag steeds die bomenslike van hulle. Dít kom jy veral agter wanneer jou eie kinders as grootmense steeds die bomenslike van jou verwag.
Ek moet myself dikwels herinner dat my ouers meer is as die mense wat ek vir 57 jaar ken, soos wat my kinders ook nie altyd besef dat ek meer is as die mens wat hulle net bykans 30 jaar ken nie. Feit is, ouers worstel van toentertyd af met die kuns van kindgrootmaak en daardie kuns gaan nie vervolmaak word nie, want of jy nou kind of grootmens is, jy bly net mens en ons almal sukkel maar om dinge “reg” te doen. Geen ouer het al die antwoorde nie – ons almal sal terugskouend sekere situasies anders hanteer of anders opgetree het. Wat ek wel weet, is dat my ouers hul lewe vir my sal gee en dat ek my lewe vir my kinders sal gee. En sou my kinders ouers word, sou hulle dieselfde doen. Want dis wat ouers doen.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.