Dis weer sulke tyd. Die skoolvakansie is verby en hierdie week begin daar landwyd duisende graadeens met grootskool
Ek dink die meerderheid ouers met kinders op skool is so effens gespanne oor die huidige stand van die onderwys – ek weet ek is. Dat die onderwysstelsel in Suid-Afrika in groot moeilikheid is, is geen geheim nie. Vra vir prof Jonathan Jansen as jy van my verskil. Hy draai geen doekies om wanneer hy sy mening oor dié kwessie gee nie. Dit kom daarvan om 1 088 onderwysstelsels uit te toets wat telkens op ’n spektakulêre manier faal. ’n Baie goeie vriend van my is ’n onderwyser (en ’n briljante een) by ’n skool in Johannesburg. Die afgelope jare wat hy by die skool betrokke is, het die slaagvereistes so gedaal (in opdrag van die onderwysdepartement) dat ’n mens wonder hoekom nog bodder om skool te gaan, want die slaagvereistes is nou belaglik.
As ek hom reg verstaan, is die nuwe reëling nou onder meer dat 40% nou te hoog is om wiskunde deur te kom. Jy het nou net 20% nodig. Wat tale betref, het jy nou net 30% nodig. Kyk, wiskunde was nie my beste vak op skool nie, maar selfs ek kan dié som maak. As jy net 20% vir ’n vak kry, het jy nie ’n cooking clue wat daarin aangaan nie. En met 30% kennis van ’n taal gaan jy nie behoorlik kan lees en skryf nie. Die bekende, berese en belese prof Jansen is uiters bekommerd oor die toestand van onderwys in ons land. So lees ek op sy Facebook-blad die volgende inskrywing op 5 Desember: “Today the DEVASTATING results of the PIRLS study were finally released: 78% of South African children do not understand what they read (cannot read for meaning). And we are dead last (50th out of 50 nations tested). Do you have ANY idea what this means for South Africa’s future?” En later skryf hy dat dit ononderhandelbaar is – die slaagpunt op skool en universiteit moet 60% wees.
Ek stem 100% saam! My dogter was as honneursstudent ’n tutor in Engels aan ’n bekende universiteit. In haar tutoriale klasse was daar onderwys-studente wat Engels moes deurkom om hul onderwysgraad te kry. Wat nogal sin maak, sou ek sê. Hoe anders kan jy voor ’n klas staan en kinders leer? Van die studente in dié klasse was vir hul derde poging in die klas om die spesiale Engels as vak vir onderwysstudente deur te kom. Die kernwoord hier is: Vir die derde keer.
Onderwysstudente. Hoekom? Wel, ek dink omdat hulle gewoon nie op skool behoorlik leer lees en skryf het nie. Wat my betref is ’n onderwysstelsel van swak gehalte gewoon krimineel en doen hulle ’n groot onreg aan leerders en studente om hulle “deur te sit”. Watse boodskap gee dit? Die boodskap het ek reeds vyf jaar gelede in ’n toespraak van prof Jansen gehoor. Hy het onder meer gesê: Deur standaarde te verlaag, sê jy vir kinders en studente dat hulle inderwaarheid nie in staat is om hoër standaarde te haal nie!
My geliefde is reeds meer as 30 jaar ’n dosent aan nog ’n bekende universiteit. Die resultaat van swak onderwys en studente deursit, sien hy elke dag: Studente op M- en D-vlak skryf sinne sonder werkwoorde. G’n wonder prof Jansen is bekommerd nie. G’n wonder ons is nommer 50 uit 50 op die lysie nie. Ek kan net beaam wat prof Jansen sê: “Do you have ANY idea what this means for South Africa’s future?” Tensy prof Jonathan Jansen minister van onderwys word, hou ek my hart vas en wens ek ons kan landwyd protesteer. Met: #standardsmustrise
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.