Ek hoor dikwels hoe redakteurs na “my tydskrif” en “my span” verwys. Ek is skrikkerig om die besitlike voornaamwoord “my” so maklik te gebruik.
Vrouekeur is nie “my tydskrif” nie en die mense wat elke week swoeg om ‘n uitgawe drukkers toe te stuur, is ook nie myne nie. Ek besit nie die tydskrif of die span nie. Ekis bloot bevoorreg om deel te wees van ‘n groep mense, vryskutjoernaliste inkluis, wat saamspan om weekliks ‘n Vrouekeur drukkers toe te stuur.
Dit is hoekom ons deel in die vreugde en dankbaarheid as ‘n spanlid ‘n kompliment oor ‘n artikel kry. Riette Rust, een van ons lojale vryskutspanlede, het in die 23 Oktober-uitgawe met Martin Steyn gesels en ek plaas graag die boodskap in reaksie op haar artikel, wat sy op haar Facebook-blad geplaas het: “’n Opregte kompliment beteken tog nie veel as jy dit nie kan deel nie. Hierdie een het my dag gemaak en ek is opreg dankbaar. Dr Gisela Ullyatt, resensent, onderhoudvoerder(met digters), redigeerder, vertaler en proefleser, skryf op Martin Steyn se Facebookblad die volgende oor ‘n artikel wat ek oor dié bekende spanningskrywer in Vrouekeur geskryf het: ‘Ek het hierdie artikel enorm geniet. Wát ‘n voorbeeld van Joseph Campbell se follow your bliss. Riette Rust het ‘n wonderlike onderhoud gevoer en die eindproduk is een van die beste artikels nóg in ‘n vrouetydskrif. Vrouekeur doen regtig moeite met hul artikels, en dis verblydend om te sien dat hulle toenemend klem op literatuur plaas.’ Baie dankie, Martin Steyn dat jy hiervan laat weet het. Dit was ‘n voorreg om met iemand so spesiaal soos jy te gesels. Ek aanvaar die kompliment in blydskap en in nederigheid. Die res is net genade.”
Nog goeie nuus is twee spanlede wie se harde werk onlangs beloon is: Spanwerk Suid-Afrika se beste kos- en gesondheidsjoernaliste is tydens die 2015 Galliova Food and Health Writer’s Awards bekroon.Ons is baie trots op ons kosredakteur, Marlo Kitshoff-Carstens, en ons hoofteksredakteur en gesondheidsjoernalis,Christa Swanepoel. Marlo was ‘n finalis in die afdeling vir koerante/weeklikse tydskrifte en Christa was ‘n finalis in die Health Writer of the Year- en die Egg Champion of the Year-kategorieë. Die kersie op die koek is Christa wat met die Galliova Special Health Writer’s Award bekroon is. Die beoordelaars het genoem dat Christa deurgaans goedgeskrewe en gebalanseerde gesondheidsartikels lewer. Baie geluk, Christa en Marlo. Baie dankie aan elkeen van Vrouekeur se spanlede wat bereid is om die ekstra myl te loop om elke week ‘n gehalteproduk te lewer. En aan ons 273 000 getroue lesers per week: Baie dankie, sonder julle kan ons nie – julle is inderdaad ook deel van ‘n formidabele span.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.