Dis nou maar hoe dit is – uitdagings (meestal buite ons beheer) is deel van die lewe
Die gesegde: Life is what happens when you are busy making other plans, was blykbaar John Lennon se wyse insig in die lewe en glo my, 2020 gaan dit weer vir ons bewys. Hier is ons aan die begin van nog ’n jaar met nuwe uitdagings wat op ons almal wag.
Dis nou maar hoe dit is – uitdagings (meestal buite ons beheer) is deel van die lewe. Ons probeer hard, maar beheer oor die lewe het ons nie. Ek is besonder bewus daarvan (dit het bykans 60 jaar op aarde my geleer) dat ek oor bitter min dinge in my lewe beheer het. Met my persoonlikheid (het ek ook geleer) hou ek daarvan om ten minste die illusie van beheer oor my omstandighede te hê. Dis hoekom ek elke jaar met Switserse presisie my dagboek op datum hou met lysies, kleurkodes, prentjies, kategorieë en nog wat, waarmee ek poog om my persoonlike en professionele lewe te orden. Dit werk vir my ondanks die feit dat ek weet dit is ’n illusie. Dit gee my die gevoel dat ek in beheer van my lewe is en, dit kan ek jou verseker, skakel baie onnodige angs en stres uit.
Ons ken almal die begrip control freak en ’n aanlyn woordeboek beskryf dit as: “a person who feels an obsessive need to exercise control over themselves and others and to take command of any situation”. Ek hoop van harte dat my poging om beheer van my eie lewe te neem, nie met bogenoemde begrip verwar word nie – ek poog bloot om orde in die chaos van die lewe te skep. In die boek The Choice, wat ’n groot indruk op my gemaak het en waarna ek ’n paar weke gelede verwys het, skryf Edith Eger die volgende oor mense se persoonlikhede en verskillende reaksies op gebeure in die lewe:
“To be passive is to let others decide for you. To be aggressive is to decide for others. To be assertive is to decide for yourself. And to trust that there is enough, that you are enough.” Met ander woorde (my interpretasie): As jy niks doen of sê nie en terugsit, gaan ander mense jou lewe (probeer) beheer en besluite namens jou neem. En jy gaan mettertyd uiters iesegrimmig word. As jy aanvallend teenoor mense is, gaan jy hul lewens (probeer) beheer en almal stoomroller en mettertyd gaan hulle iesegrimmig vir jou word. Maar as jy selfgeldend optree, neem jy (in hoeverre ’n mens kan) beheer oor jou besluite en lewe. Dit beteken nie dat al jou besluite noodwendig goeie resultate gaan lewer nie, maar dis jou besluit en jy moet jouself met jou besluite vertrou. Dus, terwyl ons in 2020 planne maak, gaan die lewe gebeur. Of dit nou mense of gebeure is wat in 2020 op ons pad verskyn – onthou, jou passiwiteit, aggressie of selfgelding gaan bepaal hoe jy oor die gang van dinge in jou lewe voel.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.