Daar’s fout met my! is die titel van Maretha Botes se artikel oor selfbewustheid en die uitwerking daarvan op jouself en die mense ná aan jou op bl 14
En, wat daarvan? Ek dink daar is “fout” met ons almal. Dis nou as ons onsself meet aan sosiale konstrukte wat bepaal wat reg en verkeerd, goed en sleg, mooi en lelik, sterk en swak, waar en onwaar is. Miskien is dit ouderdom, miskien my spesifieke storie, wie weet? Maar as daar iets is wat ek bly is ek met die jare geleer het, is dit om van myself te hou. Dít ten spyte van die wete dat daar baie mense is wat nie van my hou nie. En, wat daarvan? Dis nie moontlik om van alle mense te hou nie, en dis nie moontlik dat alle mense van my gaan hou nie.
Uiteraard moet ’n mens van tyd tot tyd introspeksie hou, want dit beteken nie dat jy ’n nare soort mens kan wees en dit bloot regverdig met die feit dat jy van jouself hou nie. As jy die gemene deler is in situasies wat problematies word, is jy waarskynlik, wel … die probleem. Dit gesê, dink ek ons moet ons baie minder steur aan sosiale voorskrifte, vereistes en standaarde wat ons minderwaardig laat voel omdat ons nie mooi, slim, ryk, suksesvol genoeg is nie. Ons is almal genoeg. Solank ons poog om nie ons medemense skade te berokken nie en ons deel doen om van die samelewing ’n beter plek vir almal te maak met ons denke, optrede en ingesteldheid maak ons sogenaamde foute nie saak nie.
Oor 100 jaar gaan ons almal dood wees en bloot mense op foto’s wees wat vir ’n vlietende tyd die aarde bewandel het. Hoeveel saak maak dit regtig of ons mooi, slim, ryk, suksesvol is? Gaan dit saak maak dat daar “fout” met ons is, gemeet aan die tyd waarin ons leef se norme? Teen daardie tyd lyk dinge weer heel anders en is “foute” dalk nie meer “foute” nie. Dalk moet ons die woord “selfbewus” se negatiewe konnotasie van minderwaardigheid in ’n positiewe lig begin sien, sonder om meerderwaardig te wees.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.