Ons is nie ‘n bietjie trots op die gesogte Mediaveertjie wat Sandra Troskie by die onlangse ATKV-Mediaveertjies gewen het nie! Sandra het vir haar besonderse storie ‘’n Toer met Skoppensboer’ die beste Leefstyl-storie in die Lees-kategorie gewen.
Hierdie Veertjie is vir ons baie spesiaal. Eerstens omdat Sandra vereer is vir haar diep, persoonlike artikel en tweedens omdat Vrouekeur die enigste vrouetydskrif is wat ‘n Veertjie gewen het. Hou ook in gedagte dat inskrywings in die Lees-kategorie, skryfwerk in tydskrifte, koerante en aanlyn insluit. Dié toekenning onderstreep dat ons regkry wat ons probeer bereik.
Ons wil artikels lewer met iets om die lyf. Artikels wat mense aanraak, soms ontroer, soms motiveer, soms inlig, soms vermaak, maar heel dikwels twee keer oor kwessies laat nadink. Lees Sandra se storie op www. vrouekeur.co.za. Hier is solank ‘n lusmaker:
“Tjsk, glip die kop van die vuurhoutjie oor die swaelkant van die boksie. Vir ‘n stonde sis die tongetjie vuur goud voor dit onseker terugsak. Ek bak my vry hand beskermend daarom, draai die houtjie om die bibberende vlammetjie hoër te lok. Om my skuifel ander begrafnisgangers, kers in die hand; oënskynlik onbewus van die swart skadu aan die rand van die lig. Vir maande reeds hou dié wurm wag … “Is jy nog oukei?” wil Dirk weet. “Piekfyn, dankie,” mompel ek onentoesiasties. Die sterk wind klap die blou van die reënponcho teen my ore vas en die reëndruppels het lank reeds ‘n ysige pad deur die goedkoop plastiek gevind …”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.