Wat gebeur as daar nie meer plek is om die goeters te begrawe nie? Daar is te veel gemors en te min plek
Verdrink ons in ons rommel? vra Shanda Luyt hierdie week op bl 14. En die kort antwoord is: Ja.Rommel is soos ’n kredietkaart. Jy sien nie onmiddellik die skade wat dit jou kan berokken nie. Dis maklik om jou kaart te gebruik, makliker as harde kontant, maar voor jy jou kom kry, verdrink jy in die skuld.
Dis ewe maklik om gemors in ’n asblik te gooi, maar dit verdwyn nie net as jy dit weekliks voor jou huis laat om weggeneem te word nie. Dit hoop nes skuld op en later kan dit jou verswelg. Ek was nog op laerskool toe ek eendag by my slim pa wou weet wat met die vullis wat weggery word, gebeur. Dis die eerste keer wat ek besef het daar is iets soos ’n landfill, wat in ordentlike Afrikaans ’n stortingsterrein is. My volgende vraag aan hom was: Wat gebeur as daar nie meer plek is om die goeters te begrawe nie? Vyftig jaar later is ons inderdaad daar. Daar is te veel gemors en te min plek. Wonderlike uitvindsels soos plastiek haal ons nou in. Wat toe na ’n briljante idee geklink het, is vandag ’n probleem.
As jy nog nie video’s of foto’s van die massas plastiek in ons oseane gesien het nie, is jy van ’n ander planeet. Dis egter nie net in die see waar ons gemors beland nie. Op om en by dieselfde ouderdom het ons eendag langpad gery en die mense voor ons het ’n papier uit hul motor gegooi. My pa was min beïndruk en het sonder om doekies om te draai sy misnoeë oor dié daad uitgespreek. Hy het daai dag aan my verduidelik wat die verskil tussen kompos en rommel is. ’n Nartjieskil is kompos en dit voed die aarde. Plastiek, papier, koeldrankblikkies en sigaretstompies is rommel, dit vergaan nie sommer nie en dit versmoor die aarde. Ek wou by hom weet hoekom hy so vies is dat die mense net een papiertjie by die venster uitgegooi het en dis dié dag wat ek nog ’n wyse les by hom geleer het. “As elke mens op die aarde elke dag net een stuk rommel uit hul kar gooi, gaan die wêreld vinnig van rommel besaai wees.”
Die beeld van ’n wêreld vol gemors het my oortuig dat dit nie iets is wat mens wil hê nie. Hy het verder gegaan en gesê dat dit nie net in die geval van rommel so werk nie. Dis hoe die lewe werk. Mens moet altyd dink wat die gevolg van jou daad is en jouself die vraag vra: As alle mense doen wat ek nou doen, gaan die wêreld beter of slegter lyk? Die opeenhoping van rommel is nie ’n wêreldwye verskynsel nie. Daar is lande wat lankal reeds planne in werking gestel het om ’n krisis teen te werk. Weer eens is die Skandinawiese lande ons ver vooruit en het die probleem van rommel die hoogste prioriteit gemaak. In Swede het hulle nou te min rommel. Jip, jy het reg gelees. Swede hersikleer ’n verstommende 99% van hul plaaslik geproduseerde rommel omdat hulle besef wat die skadelike impak van stortingsterreine vir die omgewing inhou. Afgesien van uiters suksesvolle hersiklering het hulle ook nie meer stortingsterreine nie. Stortingsterreine is een van die grootste oorsake van die globale vrystellings van die kweekhuisgas metaan en die verbranding van rommel is beter vir die omgewing as stortingsterreine.
Die beleid van zero-rommel is nou van só ’n aard dat Swede reeds in 2016 2,3 miljoen ton rommel van ander Europese lande ingevoer het om te verbrand. In Swede word 15,5% rommel biologies verwerk, 33,8% materiaal word hersikleer en 50,2% word vir die opwekking van energie aangewend. As jy byvoorbeeld een ton van Italië se rommel in Swede verbrand, kry jy die ekiwalent van 500 kg koolstofdioksiedvrystellings minder as wat jy sou kry as dié vullis in ’n stortingsterrein in Italië beland het. Die verbranding van vullis by die gesofistikeerde verbrandingsaanlegte in Swede verskaf boonop hitte aan meer as een miljoen huishoudings in die land. Dis mos slim. Jy hou die omgewing skoon (en mooi), werk aardverwarming teen en maak mense se huise warm in ’n land waar dit vrek koud word.
Vandag, 50 jaar later, praat ek in tale in my kar as mense gemors by hul karvenster uitgooi en het ons nie meer plek vir stortingsterreine nie. Ek dink ons moet eerder geld, tyd en energie aan dié kwessie bestee as om byvoorbeeld straat- en plekname teen miljoene rande te verander. Dís eerder ’n prioriteit. As ons nie baie vinnig ’n plan maak nie, gaan ons so in die rommel verdrink dat ons in elk geval geen straatnaam meer sal kan sien nie. Bron: www.trtworld.com
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.