Spyt is ’n emosie wat jy post-gebeure ervaar en dan is jy reeds nie meer die mens wat jy toentertyd was nie
As ek op my lewe terugkyk, is daar sekere goed wat ek met vandag se insig anders sou gedoen het, dalk nie gedoen het nie of dalk nie gesê het nie, maar dis wensdenkery. Die verlede is verby.
Koos Kombuis gee ons hierdie week in sy gesprek met CJ de Swardt (bl 8) ’n blik op sy lewe die afgelope 30 jaar. Die Koos van vandag is nie die Sturm und Drang- Koos van toentertyd nie. Wat het daartoe bygedra? Die verloop van 30 jaar. Dis juis my eie Sturm und Drang-jare wat my soms na my asem laat snak. Is ek spyt? ’n Mens kan jouself kasty, bejammer, skaam kry, hartseer of kwaad raak oor gebeure in die verlede, of jy kan gewoon jou oë rol oor simpel goed wat jy gedoen het en wat jou vandag laat met: “Wat het my besiel?” Al hierdie emosies help jou net mooi niks. Dis water wat lankal reeds in die see geloop het.
Spyt is ’n emosie wat jy post-gebeure ervaar en dan is jy reeds nie meer die mens wat jy toentertyd was nie. Slegte gebeure en dom besluite vorm deel van ons almal se lewe en als maak jou wie jy elke “nuwe vandag” is. Die probleem is dat mens maklik jou optrede in die verlede onder ’n vergrootglas plaas. Hoekom doen ons dit? ’n Vergrootglas lig uit wat mens nie maklik (of glad nie) met die blote oog kan sien nie. Dis fassinerend om deur ’n vergrootglas te kyk, maar het jy al daaraan gedink hoe dit sou wees as jy in jou alledaagse lewe als deur ’n vergrootglas kon sien? Afgesien daarvan dat dit jou dronk, duiselig en naar gaan maak om permanent die lewe deur sulke lense te beskou, gaan jy jou ook voortdurend te pletter val, want die vergrootglas gaan jou ’n verwronge beeld van jou wêreld gee, wat op detail fokus en jou nie ’n geheelbeeld gee nie.
Dit is waarom mens eerder moet fokus om wie jy nou is, op wie jy as gevolg van of ten spyte van jou verlede geword het. Ek het geleer om sonder ’n vergrootglas na my verlede te kyk, tensy ek juis iets in my verlede wil ondersoek om daarmee vrede te maak. Alle gebeure in jou lewe vorm deel van jou lewenstorie en jou storie bestaan uit verskillende hoofstukke. ’n Goeie boek het met ’n rede verskillende hoofstukke. Haal jy een uit, is die storie onvolledig en sit jy met ’n halwe boek wat jy nie wil lees nie. Ons haal te maklik hele hoofstukke uit ons stories en verwag die storie moet sin maak.
Maar in dieselfde asem moet mens in ag neem dat as jy vir goeie skrywers vra wat was die moeilikste in die hele redigeringsproses wat hulle saam met die redakteur moes loop, kan ek jou wed hulle gaan sê die dele wat hulle moes sny of soos boekredakteurs sê: “Kill your little darlings”. Om daai dele te sny, is moeilik, maar nodig. Metafories is dit ook soms nodig om die “little darlings” uit ons verlede te sny en net dit te behou wat van ’n storie ’n goeie storie maak. Mens moet deurgaans die redakteur van jou eie storie wees en leer wat moet bly en wat jy moet sny.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.