Ons almal raak kwaad. Soms is ons woedender as ander kere en nie alle mense raak ewe kwaad nie
Op bl 14 vra Riette Rust “Waarom so woedend?”Blykbaar het Aristoteles die volgende oor woede gesê: Enigiemand kan kwaad raak – dis maklik, maar nie alle mense kry dit reg om vir die regte persoon in die regte mate, op die regte tyd, om die regte redes en op die regte manier kwaad te wees nie.
Ek weet nie van een verskil of argument tussen twee mense in ’n liefdesverhouding wat goed afgeloop het as een of albei van die partye in woede reageer nie. Die gevaar bestaan dat wanneer jy in woede reageer, jy dinge kwytraak wat jy a) nie bedoel nie, maar wel sê om seer te maak, b) wel bedoel en juis wil seermaak, c) later nie eens kan onthou dat jy dit gesê het nie, maar die feit dat jy het, beteken dit was in jou onderbewussyn. Wat ook al die rede, om in woede iets te sê, is wat my betref altyd teenproduktief. Jy kan nie die vernynige, wrede, beledigende en verkleinerende woorde wat uit jou mond kom, terugneem nie. Selfs nie al vra jy om verskoning daarvoor nie.
Die ontvanger van die gewer se woedende woorde kan nie daardie woorde “onhoor” nie. Om te “vergewe” en om te vergeet, is nie dieselfde nie en as wrede woorde te veel keer gesê word, raak vergifnis later ook nie moontlik nie. Wrede en gemene goed wat gesê word, rig net skade aan en in ’n liefdesverhouding sit dit die verhouding tien stappe terug. Die probleem is, selfs al waai die woede oor, is daar ’n vertrouensbreuk wat plaasvind wanneer gemene goed gesê word. Maar meer nog, die mooi wat ook in die verhouding is, word stelselmatig deur die harde en gemene woorde oorskadu. Die gevaar bestaan ook dat die mooi dinge wat in gawe tye gesê word, se opregtheid mettertyd bevraagteken word. Want wat is nou waar? Die wrede woorde of die gawe woorde?
Mense verskil van mekaar en om saam met iemand te leef, beteken julle gaan mekaar in ’n stadium verkeerd opvryf. As elke verkeerde opvryf ’n woede-uitbarsting tot gevolg het, gaan die tydperke tussen die uitbarstings verkort en meer dikwels gebeur en die verhouding gaan elke keer ’n paar treë terugbeweeg totdat dit nie meer ’n liefdesverhouding genoem kan word nie. Want mense wat mekaar liefhet, kan nie die hele tyd woedend teenoor mekaar reageer nie. Dis nie liefde nie. Ek het lank gelede iets raakgelees wat my nog altyd bybly: Niemand maak jou kwaad nie – dis jou besluit om in ’n plofbare situasie met woede te reageer.
In Engels is daar twee verskillende woorde vir die woord “reageer”: react en respond. Vir die doeleindes van dié skrywe gaan ek die Nederlandse woord “respondeer” inspan. Wanneer mens reageer, bestaan die gevaar dat jy in woede iets sê of doen. Wanneer jy respondeer, is jou reaksie nie om iemand of as gevolg van onderliggende aggressie, trauma, pyn of depressie terug te kry nie. Om te respondeer, beteken jy dink na en luister (hoor nie net nie) na wat die ander party te sê het en jy luister om te verstaan, nie om te reageer nie. Dít verg oefening, maar ook emosionele volwassenheid.
Om kwaad te word, is menslik. Dít gaan gebeur, maar daar is ’n verskil tussen kwaad en woedend. Woede is ’n gevaarlike emosie en aggressief. Soos Eleanor Roosevelt gesê het: Anger is one letter short of danger Dis hoe jy respondeer of reageer wanneer jy kwaad is, wat bepaal of jul verhouding tien stappe vorentoe of tien stappe agtertoe gee.
The greatest remedy for anger is delay – Lucius Annaeus Seneca
’n Skerp tong sny als in ’n verhouding aan flarde
Anger is always – always – fear in disguise – Spider Robinson
Anger comes from frustrated expectations – Elliott Larson
Anger is like a flame blazing and consuming our self-control, making us think, do and say things that we will probably regret later – Nhat Hanh
Never say mean words out of anger. Your anger will pass . Your mean words can scar a person for life. So use kind words or be silent
Net omdat jy kwaad is, gee jou nie die reg om wreed te wees nie
Voor jy praat, dink eers na oor wat jy wil sê, Is dit waar? Is dit gaaf? Is dit nodig?
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.