Dis cool om middeljarig te wees, sê Maretta Bellingan in haar rubriek dié week. Ek stem 100% met haar saam
Hoewel ek telkens skrik as ek in ’n koerantberig lees van iemand wat my ouderdom is (57) en daar na die persoon in die berig as middeljarig verwys word. Hoekom doen hulle dit? Ek voel soos die Amerikaanse finansier wat in sy leeftyd gesê het: “Vir my is ‘oud’ altyd 15 jaar ouer as wat ek is.”
Maretta sê tereg: “Ons, die hedendaagse ‘middeljarige vrou’ is ’n merrie van ’n heel ander kleur.” Brigitte Macron is op 64 ’n volle 25 jaar ouer as haar man, die 39-jarige Franse president, Emmanuel Macron. Hoe weet ek dit? Wel, dit is iets wat die media nie sommer so sal laat verbygaan nie. Was die situasie andersom, het geen mens’n wenkbrou gelig nie. Gelukkig steur die Franse hulle min aan konvensie en Brigitte Macron is vir hulle die toonbeeld van Franse styl en chic. Hulle sien ’n intelligente vrou wat op gelyke voet met haar man is en hulle sien ’n paartjie wat bymekaar is omdat hulle mekaar liefhet.
Ons “middeljariges” steur ons nie meer aan die samelewing se voorskrifte wat ons mag en nie mag doen, dra, dink, sê en wie ons mag liefhê nie. Vroue ons ouderdom en ouer dra nie noodwendig gesondheidskoene of Cross-your-Heart-bra’s nie, lang hare is nie meer net vir die twintigs nie, ’n paar hakskoene doen dit steeds vir ons – kortom – daar is nie meer plek vir tydskrifte wat lesers vertel watter mode vir watter ouderdomsgroep gepas is nie. Dit beteken nie ons “middeljariges” het al die antwoorde nie; inteendeel, jou vrae raak meer soos jy ouer word, maar soos die Franse skrywer Jules Renard gesê het: Ons verstaan nie regtig op 40 die lewe beter as op 20 nie, maar ons weet dit ten minste en erken dit. Ons is gemaklik met wie ons is – ons het immers ’n paar dekades agter die blad waarin ons die koring van die kaf kon leer skei en weet wat ons wil en wat ons nie wil nie en soos Candice Bergen sê: Selfaanvaarding is die geseënde neweproduk van die middeljare. Iewers het ek die volgende wysheid raakgelees: Ons moet na ouderdom as vlakke begin verwys. Vlak 50 klink net beter as middeljarig. Of soos die Amerikaanse akteur Billy Burke sê: Ouderdom maak nie saak nie, tensy jy kaas is.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.