Tensy ‘n mens die afgelope tyd met oogklappe deur die lewe gegaan het, sou jy al beeldmateriaal en foto’s van vlugtelinge na Europa gesien het.
En tensy jy ‘n hart van klip het, moet hierdie mense se angs, verdriet, verlies en lyding jou aanraak. Die storie van Alta Krige op bl 26 “Op die spoor van die vlugtelinge” roep beelde van hierdie tragedie wat ons in die 21ste eeu beleef, weer by my op. ‘n Mens sou dink dat ons ná die onmenslikheid wat in vroeëre eeue plaasgevind het uit die waansin van oorloë, wreedheid, slawerny en kruistogte, iets geleer het. Of dan ten minste geleer het wat ons nie uit die geskiedenis wil herhaal nie.
Maar daar is diegene wie se optrede my soms aan ‘n goeie vriend se woorde laat dink, as hy so na dinge kyk wat in die wêreld gebeur en sugtend sê: “Die mensdom is nie ‘n suksesverhaal nie.” Ek erken, daar is dae wat ek sy mening wil deel, wanneer dit vir my voel die mensdom is besig om waansinnig te raak. Hoe op aarde maak jy iemand dood? Hoe op aarde maak jy op een slag nie net een mens nie, maar tientalle of selfs duisende, dood? Soos wat ek hier sit en skryf, was die jongste aanval van waansin en doodslag die een op die Ataturk-lughawe in Istanboel.
Mag ek verkeerd wees, maar die kans is groot dat teen die tyd wat hierdie uitgawe op die rak is, daar iewers in die wêreld verdere sulke lafhartige aanvalle plaasgevind het. Die blote feit dat ek relatief vreedsaam aan die suidpunt van Afrika leef, beteken nie daar is nie elders in die wêreld helse oorloë aan die woed nie. Daagliks sterf mense aan die hand van medemense. Ek lees onlangs ‘n berig oor vlugtelinge wat uit die rommel van Sirië gevlug het. Een van die mans se woorde tref my diep. Hy sê: “Baie mense dink ons kom soek net ‘n beter lewe in Europa. Nee, ons soek nie ‘n beter lewe nie. Ons soek net ‘n lewe. Waar ons vandaan vlug, is daar nie lewe nie. Is daar nie hoop nie”. Om hoop op te gee, is die begin van die einde. Hoop kan ‘n mens deur baie moeilike tye help.
Maar hoe hoop jy, as jou hele lewe, jou huis, jou besittings, jou toekoms, jou verlede, jou bestaan in een groot hoop aan skerwe lê? Ek dink ‘n mens se oorlewingsdrang skop in en jy hou vir oulaas aan ‘n greintjie hoop vas en jy vlug gewoon. Die hoeveelheid vlugtelinge wat as gevolg van die onhoudbare toestande in hul lande na Europa vlug, maak dit vir my duidelik dat die meerderheid mense ongeag, kultuur, geloof, taal, agtergrond of oorsprong, soos ek, net in vrede wil leef en laat leef. Maar kan ons die wêreld verander? Ek dink ons kan, as ons die wreedheid, woede en onmenslikheid wat ons sien met ‘n ingesteldheid van liefde, vrede en medemenslikheid teenstaan.
Mahatma Gandhi het gesê: Wat jy glo, word jou denke Jou denke word jou woorde Jou woorde word jou optrede Jou optrede word jou gewoonte Jou gewoontes word jou waardes Jou waardes word jou eindbestemming En Moeder Theresa het gesê: Ek alleen kan nie die wêreld verander nie, maar ek kan ‘n spreekwoordelike klip op die water gooi om ‘n rimpeleffek te maak. Mense soos Alta Krige gee my hoop, maar laat my ook wonder: Wat doen ek om hoop aan ander te gee?
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.