Die artikel, “Moet vroue nog hul bra’s verbrand?” het my aan die dink gesit vir hierdie week se skrywe
’n Paar 100 woorde is te min om regtig indringend oor dié onderwerp te skryf, maar om oor die begrip ”feminisme” te praat, is vandag nog net so belangrik soos in die brabranddae.
Ek gaan nie my bra’s verbrand nie. Op 57 wil ek nie uit vrye wil in die openbaar sonder een verskyn nie. Maar as jy my nou briesend wil maak, dan moet jy vir my sê ’n vrou moet onderdanig aan haar man (by implikasie alle mans) wees. Ek is aan niemand onderdanig nie, en niemand is aan my onderdanig nie. Punt. Waarskynlik het ek hierdie siening te danke aan my ma (en my pa), maar die feit dat ek geleer het om krities te dink, speel gewis ook ’n rol.
En dan deel ek my lewe met ’n man wat ’n uitgesproke feminis is. Jip, mans kan ook feministe wees. Die begrip “feminisme” se betekenis word in die Cambridge Dictionary gegee as: “the belief that women should be allowed the same rights, power, and opportunities as men and be treated in the same way, or the set of activities intended to achieve this state”. Die man in my lewe ondersteun hierdie regte van vroue sonder voorbehoud. Dus is hy ’n feminis. Nes my ma, my pa, my drie broers, my dogter en haar man, my seun en sy vrou en my geliefde se twee dogters. Feministe is dus nie ’n klomp lelike mannehaters nie – dis die denkwyse van menige patriargale, chauvinistiese, seksistiese, homofobiese en bedreigde mans.
Ongelukkig is daar selfs sommige vroue wat hierdie argaïese denkwyse ondersteun en glo ’n vrou is die ondergeskikte. Ek het onlangs ’n dokumentêre fliek gekyk wat ’n groot indruk op my gemaak het, Gallipoli. Die geveg om Gallipoli (1915–1916) tydens die Eerste Wêreldoorlog tussen die Geallieerdes en ’n klein groepie Turkse soldate op die Dardanelle is net weer eens vir my ’n bewys van die sinneloosheid van oorlog. Maar wat ons nie in die geskiedenisklas op skool geleer het nie, is dat die Turkse aanvoerder, Mustafa Kemal, ’n briljante en merkwaardige man was.
Ons het net geleer dat dit ’n “suksesvolle” veldslag was omdat die Geallieerdes uiteindelik as die “wenners” uit die stryd getree het – oor die “ander kant” is ons nie ingelig nie. Mustafa Kemal is niemand anders as die bekwame en beroemde Mustafa Kemal Atatürk (bekend as Atatürk) nie. Die naam Atatürk beteken vader van die Turke en is deur die Turke aan hom gegee na aanleiding van sy hervormings en sukses in die skepping van ’n moderne Turkye ná die verval van die Ottomaanse Ryk (1299–1922). Atatürk het as president van Turkye merkwaardige verandering in Turkye meegebring – onder meer het hy akademiese opleiding van meisies en vroue, geslagsgelykheid en vroueregte sterk en uitgesproke ondersteun en hom daarvoor beywer.
So het vroue in Turkye byvoorbeeld in 1934 stemreg gekry (slegs 14 jaar ná die VSA) en etlike dekades voordat vroue in Switserland in 1971 kon stem. Hou in gedagte dat die meerderheid mense in Suid- Afrika eers in 1994 stemreg gekry het! Atatürk was myns insiens, afgesien van briljant, ’n feminis en sy tyd vooruit. Doen jouself die guns en loer op die internet na ’n lys van datums wanneer vroue in die verskillende lande wêreldwyd stemreg gekry het. Dis interessant, maar ook skokkend. Dit alleen is reeds genoegsame rede om op alle vlakke op dieselfde regte, mag en geleenthede as mans aan te dring. Ek is bly daar was vroue en mans wat hul tyd vooruit was en op gelyke behandeling van alle mense aangedring het, want niemand hoef aan enigiemand onderdanig te wees nie. Of jy nou ’n bra dra of nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.