Ek het al etlike kere oor lewe en dood geskryf en gesê wat ek wou sê. So hoekom hierdie week weer daaroor skryf?
Tydens The Talking Table se skryfkursus, wat Marita van der Vyver en Frederik de Jager vroeër vanjaar op Lesbos aangebied het, was een vinnige opdrag wat ons binne tien minute moes doen, die skryf van ’n paragraaf oor ’n sonsondergang.
Hoeveel sonsondergange het ons al gesien, hoeveel keer het ons al bekende en onbekende skrywers se beeld daarvan in woorde gesien? Is ’n sonsondergang nie reeds voos beskryf nie? Die doel van die oefening was om te illustreer dat daar oor alles in die lewe al geskryf is – miljoene kere. Die kuns van skryf, het ons geleer, is om die bekende onbekend te maak. In dié geval om ’n sonsondergang te beskryf soos dit nog nie gedoen is nie – dat die leser nuut daarna kyk.
Ek het al etlike kere oor lewe en dood geskryf en gesê wat ek wou sê. So hoekom hierdie week weer daaroor skryf? Wel, nie omdat ek dink ek is enigsins nou in staat om oor dié temas iets verbysterends en nuuts te skryf nie. Dalk is dit omdat die artikel oor begraafplase van die toekoms op bl 24 by my ’n bewustheid van my eie sterflikheid uit my onderbewussyn na vore roep, want ongewoon baie mense wat ek ken of van wie ek weet, is vanjaar dood. Ek wil allermins morbied raak, tog dink ek dit is goed om te besef dat daar in ’n stadium vir ons almal nie meer ’n “môre” of ’n “volgende jaar” is nie.
Die een oomblik leef jy en die volgende oomblik nie. Jou laaste sonsondergang het gekom en gegaan. Dis hoekom dit so belangrik is om in die “nou” te leef. Die verlede kan jy nie verander nie, en die toekoms ken jy nie. Dis hoekom ons sê: Carpe diem – ’n uitdrukking wat waarskynlik al soveel keer gehoor (en gebruik) is as wat ek sonsondergange gesien het. Carpe diem is ’n Latynse uitdrukking wat gewoonlik vertaal word as: Gryp die dag. Die oorsprong daarvan kom uit ’n gedig van die Romeinse digter, Quintus Horatius Flaccus (65–8 VHJ), meer bekend as Horatius, en lees gedeeltelik soos volg: “… carpe diem, quam minimum credula postero”, wat vertaal as: … pluk die dag, vertrou die toekoms so min as moontlik. By implikasie: Maak die meeste van die tyd wat jy het, want jou tyd op aarde is kort.
Baie skrywers het dié oorspronklike Latynse uitdrukking in hul werke gebruik, maar dit is ná die beroemde Engelse digter Lord Byron se gebruik daarvan in die boek The Letters and Journals of Lord Byron deur Thomas Moore, wat dié uitdrukking al hoe meer in Engelse skrywers se werke gevind word. In dié werk skryf Byron: “I never anticipate – carpe diem – the past at least is one’s own, which is one reason for making sure of the present.” Dié edelman, George Gordon Byron, die sesde baron Byron, alombekend as lord Byron, was bekender vir sy liefde vir vroue en nie as ’n Latynse akademikus nie, maar hy het Latyn behoorlik onder die knie gehad nadat sy skoenmaker hom as kind in Latyn onderrig het. Hy het later in 1811 sy weergawe van Horatius se gedig, Ars Poetica, (The Art of Poetry) as Hints from Horatius geskryf, wat in 1831, ná sy dood, gepubliseer is. In Ars Poetica gee Horatius wenke vir digters oor die kuns verbonde daaraan om te dig en dramas te skryf. Kom ons gryp elke dag, jy weet nie wanneer is dit jou laaste sonsondergang nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.