Waaroor word die meeste in verhoudings vasgesit? Ek is bykans seker dit is oor geld en oor seks.
Twee artikels oor verhoudings in dié week se uitgawe: “Seks onder die soeklig” en “Dryf geld ‘n wig tussen jou en jou maat in?” laat my dink aan wat Charles Bukowski gesê het: “Geld is soos seks. Dit raak al hoe belangriker as jy dit nie het nie.” Vir baie jare is daar nie in goeie geselskap oor seks gepraat nie. Dit was ‘n taboeonderwerp. Genadiglik het dit verander en word die woord nie meer geklank as daarna verwys word nie. Soos dr Elmari Mulder Craig, ‘n kliniese seksuoloog en verhoudingsberader, op bl 12 sê: “Calvyn het nie meer so ‘n houvas nie …” Uiteraard is daar baie pilare in ‘n verhouding wat die behoud daarvan bepaal, maar die twee boustene, seks en geld, kan inderdaad ‘n verhouding maak of breek.
Ek onthou hoe my pa toe ek klein was gesê het: “As armoede by die voordeur instap, stap liefde baie maklik by die agterdeur uit.” En ek dink as liefde by die agterdeur uitstap, vat dit seks saam. Ons almal het al gehoor dat geld ‘n mens nie gelukkig kan maak nie, maar soos Izak Strauss, ‘n welvaartsafrigter, in die artkel op bl 10 sê: “Geld kan nie geluk koop nie, maar geld kan jou huwelik ruïneer.” Klaarblyklik is finansies “verreweg die nommer-eenoorsaak van egskeidings”. Wat is die oorsaak van konflik oor geld in ‘n verhouding? Uiteraard meestal die gebrek daaraan, maar lees jy die artikel, kom jy agter ‘n gebrek aan kommunikasie oor die onderwerp is deel van die probleem. Wat dra tot konflik oor seks in ‘n verhouding by?
Dikwels die gebrek daaraan, maar lees jy dié artikel, kom jy agter dat ‘n gebrek aan kommunikasie ook hier deel van dié probleem is. Dis duidelik dat kommunikasie in ‘n verhouding uiters belangrik is. In enige verhouding is daar konflik – of dit nou oor geld, seks, kinders, skoonfamilie, huistake, of wat ook al gaan. Daar is baie oorsake vir finansiële en seksuele konflik. In die artikel: “Konflik? Bestuur dit só”, sê Lizel Stephan, ‘n lewensafrigter: “… om in konflik te wees, begin wanneer ‘ek nie meer gelukkig is nie’. Iewers het ‘n bedreiging, ‘n vrees of ander onvergenoegdheid jou vrede en geluk onttroon. … dit veroorsaak ‘n tweestryd tussen geluk en ongelukkigheid en dit is dan wanneer innerlike konflik tussen mense inwriemel en amok in verhoudings veroorsaak”.
In die artikel oor konflik haal Ansja Ferreira die motiveringspreker en skrywer Tony Gaskins aan wat sê: “Kommunikasie is vir ‘n verhouding soos suurstof vir lewe. Daarsonder sterf dit.” Net soos mense toentertyd nie oor seks wou praat nie, sukkel mense in ‘n verhouding steeds om te praat oor dit wat hulle pla. Om oor geld te praat, gaan nie eensklaps jou bankrekening verstewig nie, maar dit gaan minstens help dat ‘n mens saam ‘n oplossing vir die situasie probeer vind en nie as gevolg van die druk en spanning nog met mekaar ook baklei nie. Om oor seks te praat, gaan nie onmiddellik ‘n sekslewe van epiese proporsies verseker nie, maar as ons met mekaar oor ons behoeftes praat, raak dit al makliker en leer ons mekaar al beter ken. En hoe beter ons mekaar ken, hoe meer verstaan ons mekaar en dan hou ons nie permanent die agterdeur dop of oop nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.