Wanneer ek iets ontdek wat mooi of lekker is, goed werk, of ’n slim plan is, wil ek almal daarvan vertel
Dis nie net ek nie– die hele span hier op kantoor doen dieselfde. Ons ruil raad, resepte en wenke uit en as een iets moois of ’n winskoop aanlyn raaksien, is ons almal op die internet. Ons deel ook ons op- en afdraandes met mekaar en ons is oortuig daarvan dat menige persoonlike probleem met dié ondersteuningstelsel opgelos word.
Die nuutste ontdekking wat ek gemaak het, wil ek wyd en syd deel. Ek het nie noodwendig baie slaap nodig nie, maar as ek wil slaap, wil ek slaap. Vir my is dit elke aand heerlik om in die bed te klim en verder aan die boek waarmee ek besig is, te lees. Totdat my oë toeval en ek salig kan slaap. Of so was dit tot so ’n jaar gelede. Tot toe het ek nooit ’n probleem gehad om aan die slaap te raak nie, maar op ’n nag het ek oudergewoonte die bedlig afgeskakel en omgedraai om te slaap.
En toe kon ek nie aan die slaap raak nie. Ek het rondgerol, dan op dié sy, dan op daai sy, dan op my rug, dan op my maag. Nag vir nag daarna het dieselfde patroon my van waardevolle rus beroof. Ek het tot twee ure so gelê en woel, dan is my bene buite die duvet, dan binne, dan hang my een arm van die bed af, dan my een been. Trouens, ek het later ná vele gegooglery, gewonder of ek nie aan sogenaamde rustelose-bene-sindroom ly nie.
Die raad op die internet om vir dié sindroom ’n aartappel in jou bed te sit, het vir my absoluut belaglik geklink, maar mense het daarby gesweer en ek was desperaat. My geliefde was baie geduldig met my onrustige gewoel in die bed, maar met die noem van die aartappel-in-diebed- oplossing, het hy sy oë gerol. Toe ek so paar dae gelede die nag weer my kussings herhaaldelik omdraai, dubbel vou, afgooi en dan een, dan twee gebruik, het ek begin wonder of die probleem nie dalk my kussings is nie. 50
Die volgende dag het ek terstond by die matraswinkel oorkant die werk ingestap en die verkoopsman gevra om vir my die beste kussing te wys. Binne tien minute het ek met ’n spesiale kussing uitgestap. Weliswaar ’n paar honderd rand armer, maar ek sou groot geld betaal vir die saligheid van slaap. Wel, van nag een af is ek genees van wat ook al ek gehad het. Ek slaap soos ’n baba – van die oomblik wat ek my kop op daai kussing neerlê.
Dit het my laat dink aan goed wat mens in jou lewe pla. Jy woel en worstel met ’n probleem en probeer alles om dit opgelos te kry, maar helaas werk niks. Tot jy op ’n dag besef jy moet die oorsaak van jou probleem soek en nie die simptome probeer regdokter nie. Ek sou nou nog rondgerol het as ek nie die oorsaak van my “sindroom” ondersoek het nie. Dat ’n kussing nou so ’n verskil in mens se lewe kan maak.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.