As jy op 83 ’n nuwe kar koop, beteken dit jy is nog lank nie klaar met al jou planne nie
In 2008 het die wêreld te wete gekom van ’n man in Oostenryk wat een van sy dogters 24 jaar lank in ’n kelder opgesluit het. Die mishandeling wat sy deurgemaak het, is onbeskryflik erg. In daardie kelder het sy ook op haar eie die lewe geskenk aan sewe van dié monster se kinders. Hy sit nou vir altyd in die tronk, maar almal in daardie familie se lewens is eintlik verwoes.
Uiteraard is dit ’n ekstreme voorbeeld van iemand wat nie die woord Pa werd is nie, maar ek sidder telkens as ek in die nuus lees van pa’s wêreldwyd wat hul kinders verwaarloos, aanrand, opsluit, mishandel en selfs doodmaak. Ek weet daar is ma’s wat ewe boos is, maar hierdie week skryf ek oor pa’s, want dit is weer Vadersdag. Diegene wat my goed ken, weet ek en my pa het ’n spesiale band. By hom het ek so baie geleer (en doen ek steeds), nie deur dit wat hy vir my vertel het nie (dit ook), maar deur hoe hy leef. Sy voorbeeld lei my my hele lewe lank al.
Ek kan hom enige tyd van die dag of nag bel – hy is nooit te besig vir my nie. En besig is hy. Op 83 werk hy steeds, reis hy steeds vir sy werk en pak hy steeds nuwe projekte aan. So gesels ons so ’n paar maande gelede en vertel hy my dat hy die “stoute skoene” aangetrek het. “Wat het jy gedoen?” wil ek weet. “Ek het ’n splinternuwe kar gekoop.” In die fliek The Best Exotic Marigold Hotel sê Maggie Smith se karakter in ’n stadium iets wat vir my baie snaaks is, “At my age, I don’t plan that far ahead. I don’t even buy green bananas.” As jy op 83 ’n nuwe kar koop, beteken dit jy is nog lank nie klaar met al jou planne nie – trouens, jy maak elke dag nuwes.
Maar van karre gepraat – karre, huise en geld definieer nie ’n goeie pa nie. Karakter, waardes, respek, eerlikheid, medemenslikheid, nederigheid – kortom integriteit, doen dit wel. Ek hoop dat ek op 83 so entoesiasties en optimisties oor die lewe sal wees dat ek ’n nuwe kar koop. Maar meer nog, ek hoop dat daar iets van my pa se integriteit aan my afgesmeer het. Vir al die goeie pa’s sê ek dankie. Vir diegene wat nie so bevoorreg soos ek is nie – mag julle daardie siklus breek en die pa’s wees wat julle wou gehad het.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.