Niks, net mooi niks in die lewe is voorspelbaar nie. En hoekom sommige mense groter geluk op hul pad en ander meer smart op hul pad het, dit weet ek nie
Mati, tot verlede Dinsdag ’n mooi Griekse dorpie net buite Athene, bestaan nie meer nie. Waar daar ’n dag vroeër nog lewenslustige mense die heerlike somerson geniet het, waar kinders gespeel en gelag het, is daar nou net as. Soos ek hier sit en skryf, is dit met ’n ambivalente gevoel, want ek klim oor twee dae op ’n vliegtuig Griekeland toe. Ek is opgewonde, maar ook erg ontsteld oor dié verskriklike ramp wat jonk en oud, sonder onderskeid, afgemaai het.
Die verskrikking kan ek my nie indink nie. Niks sal ooit weer vir die mense wat die onvoorstelbare ramp oorleef het, dieselfde wees nie. Dit moet ’n ontsettende smart wees om die een dag ’n huis met geliefdes in te hê en die volgende dag niks. Hoe op aarde leef ’n mens voort as jy ná so iets een van die oorlewendes is? Die mense wat in dié ramp dood is (en die oorlewendes), het soos ek verlede Dinsdag opgestaan met allerlei planne en drome vir die dag, vir die lewe. Kan, mag, ek steeds opgewonde wees oor my reis as daar soveel hartseer in Griekeland is?
Dit laat my dink aan die wysheid van Peter Hoeg (Miss Smilla’s Feeling for Snow): “Daar is geen eenvoudige wiskunde vir die lewe se uitdeel van geluk en smart nie, daar is nie iets soos ’n standaardverdeling nie.” Ons weet nie wat die lewe vir ons gaan uitdeel nie, maar om daaroor te bekommer, gaan niks daaraan verander nie. Dit gaan net vandag se vreugde ook vernietig. Dis Anne Frank wat geskryf het: “Kyk in en om jou na die mooi wat steeds bestaan en wees bly.” Om in haar omstandighede so iets te kon sê, gee my hoop en laat my beter voel om steeds met groot opgewondenheid my
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.