As daar een artikel is wat jy hierdie week moet lees, is dit Alita Steenkamp se gesprek met Amore Bekker. Amore se sabbatsreis verlede jaar laat haar nou anders na die lewe kyk
Ons onderskat die waarde van verandering dikwels. Ons praat nie verniet van ons comfort zone nie. En in daardie ruimte kan ’n mens in ’n groef verval sonder dat jy dit eens besef. ’n Sabbatsreis is nie ’n luukse nie. Dis eintlik iets wat ons almal nodig het, maar in my lewe is die kans dat ’n vlieënde piering op my voorstoep land groter as ’n sabbatsreis. So hol die meeste van ons dag ná dag soos rotte in ’n wieletjie. Wat ons dink is ons gemaksone, is dus eintlik ons gewoontesone.
Novembermaand verlede jaar het ’n moedeloosheid my oorval. Oorval is die verkeerde woord. Die moedeloosheid het my eintlik bekruip. Stadig maar seker. Dalk moet ek dit net duidelik maak. Ek hou baie van my werk en ek hou baie van almal in die Vrouekeur-span. Maar Novembermaand verlede jaar het ek besef ek moet iets daadwerkliks doen om ’n verandering in my lewe te bring.
Eerste prys sou ’n sabbatsreis gewees het, maar siende dat die realiteit anders daar uitsien, het ek met klein stappies begin. In plaas van die pad wat ek die afgelope tien jaar werk toe ry, het ek ander paaie begin ry. Nuwe bome, huise, verfkleure van tuinmure, plante op sypaadjies en winkels het die verveling en die bekende nuut en onbekend gemaak. Dié klein verandering het ’n groot verandering teweeg gebring. Ek was nie meer soggens op auto pilot nie.
Ek het weer begin waarneem en bewus word. Dit het meegebring dat ek anders na my ruimtes begin kyk het. Ek het my kantoor verander, goeters in en om ons huis verander en my roetine ná werk verander. Die moedeloosheid het saam met die verandering begin verdwyn. Net die ander pad werk toe het my anders na my lewe laat kyk. Hoekom neem so min mense ’n sabbatsreis? Is dit omdat ons dink dit is ’n onverstandige besluit om vir drie maande onbetaalde verlof te neem, want die “verstandiges” sê so? Ek lees onlangs die volgende wyse woorde van Pablo Neruda:
You start dying slowly
if you do not travel,
if you do not read,
if you do not listen to the sounds of life,
if you do not appreciate yourself.
You start dying slowly
when you kill your self-esteem,
when you do not let others help you.
You start dying slowly
if you become a slave of your habits,
walking everyday on the same paths …
if you do not change your routine,
If you do not wear different colours
or you do not speak to those you don’t know.
You start dying slowly
If you avoid to feel passion
and their turbulent emotions;
those which make your eyes glisten
and your heart beat fast.
You start dying slowly
if you do not change your life when you are
not satisfied with your job,
or with your love,
if you do not risk what is safe for the
uncertain,
if you do not go after a dream,
if you do not allow yourself,
at least once in your lifetime,
to run away from sensible advice …
Dalk moet ek nie vir daai vlieënde piering wag nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.