Aanhalings op die internet word dikwels aan die verkeerde mense toegedig, is soms buite konteks of gewoon te stroperig.
Desnieteenstaande hou ek nogal daarvan om aanhalings wat ek raaklees, iewers in ‘n lêer op my rekenaar te bêre. Oor emmerskoplyste het ek al dikwels op hierdie bladsy geskryf, maar so ‘n lysie is iets wat altyd in my agterkop bly. Maar in my agterkop beteken nie dit word uitgevoer nie.
Ek is een van diegene wat dink daar is nog tyd om dit of dat te doen. My verskoning is gewoonlik, “ek het nie nou tyd nie” of “ek het nie nou geld nie” of “ons is op deadline”. Wel, as ek moet wag vir tyd of geld voor ek die dinge op my lysie gaan doen, gaan dit helaas waarskynlik nie gedoen word nie en voor ek weet, is ek op die laaste deadline van my lewe en dan is ek spyt oor dit wat ek uitgestel het en nie gedoen het nie.
Die artikel op bl 26 oor Edzard Meyberg se pelgrimstog van 50 dae deur Duitsland het my weer eens aan my emmerskoplys laat dink. Ek is een van die mense wat nog met ‘n rêrige dagboek werk. Ek skryf afsprake neer, maak notas en kleurkodeer inskrywings volgens prioriteit en afhandeling. Dit is ‘n gewoonte en gewis aan my persoonlikheid toe te skryf, maar vir my werk dit om nie goed uit my kop te probeer onthou nie en om ‘n dagboek op ‘n rekenaar of ‘n selfoon te hou, gaan nie gebeur nie – al is ek later die enigste mens wat nog goed neerskryf. Justin Zackham, die skrywer van The Bucket List, het op ‘n dag (voor die sukses van sy storie) uit desperaatheid gaan sit en neerskryf wat hy nog als wil doen voor hy sy oë finaal toemaak.
Hy het dié lys Justin’s Bucket List genoem en dit teen ‘n muur in sy werksplek opgeplak – nie as ‘n idee vir ‘n storie nie, maar as ‘n motivering. En dit het redelik goed gewerk, sou ‘n mens kon sê. Dalk moet ‘n mens meer as een lysie hê. Een vir die lang termyn en een vir elke dag/week/maand. Dis dalk ook ‘n goeie plan om minstens een ding op die lysies neer te skryf wat nie op jou eie geluk fokus nie, maar op die gee van geluk in iemand anders se lewe ook. En nie alles op ‘n emmerskoplys hoef geld te kos nie. Die belangrikste van enige lysie wat ‘n mens in die lewe maak, is om dit wat op die lysie is, te kan aftik om te voorkom dat van uitstel afstel kom. Want soos ‘n aanhaling wat ek raakgelees het, sê: “Daar is sewe dae in ‘n week. Eendag is nie een van hulle nie.” Ek maak sommer nou nog ‘n lysie. Een met goed daarop wat ek wil doen wat onder meer moed verg, ‘n waagstuk is en my uit my gemaksone laat beweeg. Soos een van die aanhalings uit The Bucket List sê: “Eendag gaan jou lewe voor jou verbyflits – maak seker dis die moeite werd om daarna te kyk”.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.