Willie Burger skryf nou al etlike jare vir ons ’n weeklikse boekeblad. Dis een van my gunstelingblaaie en die positiewe terugvoering van lesers op dié blad verbly my telkens.
Ons is almal geneig om ander mense volgens ons eie maatstaf te oordeel. Wanneer ek in mense se huis instap en ek sien boekrakke wat kreun onder die gewig van boeke, is die kans dat ons oor die weg gaan kom groter as wat ek in ’n huis instap waar die TV teen die muur groter as die rusbank en die gebrek aan boeke opvallend is.
Ek is telkens verstom as mense sê hulle lees nie. Ek wil-wil vir hulle sê dis nie iets wat ’n mens hardop vir ander mense sê nie. Maar só ’n uitspraak is waarskynlik ongevraagd, al lees ek baie in dié erkenning. Oor lees kan ’n mens boeke skryf. Ek kan my lewe sonder boeke nie voorstel nie. Dit het gewis te make met die feit dat as ek aan my ma dink, sien ek haar met haar neus in ’n boek. Die Kinders van die wêreld-reeks het my as kind na verre lande laat reis en ek kon ure lank lees hoe mense ooraloor leef. N
Ek skroom nie om hardop te sê dat ek ’n boek wil sien, voel en ruik nie. Ek lees nie ’n boek op ’n skerm nie. Weer eens my maatstaf, maar een van die saligste dinge vir my is om saans in die bed te klim en te lees totdat die slaap my oorval. ’n Boek in die bed is vir my soos ’n kind met ’n sekuriteitskombersie. Ek onthou my 12de verjaardag baie goed. My pa wou weet wat ek as geskenk wou hê en sy voorstel was boeke. Nie een nie, sommer ’n klomp. Só is ons twee in 1972 saam na ’n bekende boekhandelaar in die middestad van Pretoria waar die boeke van vloer tot plafon gerys het.
Tot vandag toe bekoor die reuk van boeke my en elkeen van daardie boeke pryk vandag nog op my boekrak(ke). ’n Liefde vir lees, is gewis een van die vele goeie gewoontes wat ek by my ouers geleer het en as my twee kinders my vertel van ’n goeie boek wat hulle gelees het, weet ek dat ek ook minstens een goeie ding vir hulle geleer het. Dis soos Dr Seuss sê: “The more that you read, the more things you’ll know. The more that you learn, the more places you’ll go.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.