Ons almal ken minstens een van hulle. Klakouse. Mense met ’n slagoffermentaliteit
Ek weet nie of dit regtig Albert Einstein was wat dit gesê het nie, maar wie dit ook al was, het wyse woorde kwytgeraak: “Bly weg van negatiewe mense. Hulle het ’n probleem vir elke oplossing.
” ’n Jaar of twee gelede, ek kan nie regtig onthou wanneer dit was nie, het ek op OR Tambo gesit en wag dat die hek vir my vlug Kaap toe oopmaak. Reg voor my het ’n funky vrou in ’n rolstoel gesit, ook soos ek wagtend dat die hek oopmaak. Ek kon haar nie miskyk nie. Sy’t reg voor my gesit. Ek kon nie my vinger daarop lê nie, maar haar styl, houding en energie het my gefassineer. Dalk was dit ook die band om haar kop of die stringe armbande waarmee ek kon identifiseer.
Ek het selfs van die kussing op haar stoel gehou. Maar dit is uiterlike goeters. Daar was net iets aan haar wat my oor haar laat wonder het. Dis Stephen Hawking wat gesê het: “People won’t have time for you if you are always angry or complaining.” Dis inderdaad ’n mens wat rede gehad het om kwaad te wees en sy lot te bekla. Dis met die lees van die proewe van Maretta Bellingan se gesprek met Elsje Neethling in hierdie week se uitgawe wat die funky vrou op die foto vir my bekend lyk. Toe besef ek wie daai dag op die lughawe voor my gesit het.
En toe verstaan ek hoekom dié besonderse mens so ’n indruk op my gemaak het en hoekom haar energie my so aangetrek het. Nou wonder ek, hoeveel keer kla en kerm ons en raak ons woedend vir gebeure wat nie eens ’n blip op die radar is vir mense wat inderdaad rede daartoe het nie – die Stephens en die Elsjes van die lewe, by wie ons net kan leer, want ten spyte van, leef hulle met oorgawe.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.