Sjoe, is die eerste woord wat by my opkom met die lees van die artikel “Die laaste uur”. Hoewel ons almal weet dat ons die een of ander tyd die laaste uur van ons lewe ingaan, wil ’n mens nie aldag aan doodgaan dink nie.
Ek praat so ’n week gelede met my ma en haar woorde ruk my: “Ek kan nie glo ek is aan die einde van my lewe nie.” My ma gebruik nie lelike woorde nie, maar sy het nou al vrede daarmee gemaak dat ek sterker taal as sy besig. Ek sal liewer nie hier skryf wat my reaksie was nie, maar dit klink soos: “Ag Ma, moet nou nie twak praat nie.” Dis asof ek daarmee die realiteit wil fnuik deur te maak asof sy nie 81 is nie. Op 20 dink ’n mens mos jy is onsterflik. Dis eers as jy hier by 60 se kant kom wat jy besef jy is oor die halfpadmerk en die eindstreep is in sig. So g’n wonder jy weet in jou tagtigs dat elke dag net genade is nie.
Ek wonder dikwels wat is beter – om vinnig sonder waarskuwing te sterf of om te weet jy moet nou groet. Dalk is dit omdat ek daarvan hou om in beheer te wees (opsigself ’n illusie) dat die laaste opsie vir my na ’n beter een klink, maar dis makliker gesê as gedaan, want ek is nie tans in daardie posisie nie. Net voor Vadersdag wou Afrikaans.com van my weet watter wysheid ek van my pa gekry het wat ek met hulle wil deel. Om dit te doen, kan ek net sowel ’n boek skryf. Feitlik in alles wat ek besluit, hoe ek dink, optree, ander mense behandel, probleme hanteer en die lewe benader, is my pa se stem in my kop. Een daarvan is hoe om ’n probleem in die lewe te hanteer. Ek het dit al gedeel, maar ek doen dit weer: “’n Probleem is nie ’n probleem as daar nie ’n oplossing voor is nie.”
So ’n paar weke gelede is my dogter moedeloos oor dinge wat “verkeerd” loop. En daar kry ek my pa se wysheid in my raad aan haar. Bygesê, terwyl ek vir haar raad gee, gee ek toe sommer vir myself ook die raad. Op skool het ek hekkies gehardloop – nie goed nie – ek was te lui om te oefen, maar ek kon hol. En glo my, in ’n hekkieswedloop seil jy nie altyd seepglad oor elke hekkie nie en jy kan dit nie so vinnig hardloop soos ’n gewone 100 m nie. Met oefening raak dit al hoe makliker om oor die hekkies te seil, maar as jy toelaat dat die hekkie jou bang maak of jy dink jy gaan nie daaroor kom nie, gaan jy in die proses neerslaan of stokstyf voor die hekkie vries. Die lewe is een lang hekkieswedloop en verloop nooit seepglad nie. Ons almal wens dit het, maar dit gaan nie gebeur nie. Te dikwels maak die hekkies op ons pad ons bang – in so ’n mate dat ons twee realiteite uit die oog verloor.
Eerstens sien ons nie raak watter ver pad ons al geloop het om by hierdie hekkie uit te kom nie. Ons vergeet van al die hekkies wat ons reeds oorkom het en ons vergeet ook van die dele waar daar nie hekkies was nie. Tweedens kyk ons so teen die hekkie vas dat ons glad nie die ander kant kan sien nie. My pa se filosofie van ’n oplossing vir ’n probleem, is juis om anderkant die hekkie te kyk. Maak ’n plan om daaroor te kom. As jy die hele tyd gaan sit en wroeg oor die hindernis, kan jy nie daaroor kom nie. Terwyl ek dit vir my dogter sê, besef ek dat ek ook soms teen die hindernis vaskyk en net daar besluit ek weer om my ingesteldheid te verander en planne te maak in pleks van paniekerig te raak. Hoe gemaak as jy nie meer ’n plan kan maak nie? As jy weet die laaste uur het aangebreek? Dit kan ek nie antwoord nie. Ek kan my in so ’n situasie nie indink nie. Maar ek wonder – is dit ’n hekkie of beteken dit dat jy al jou hekkies suksesvol oorkom het en die eindstreep in sig is? En nou kan jy rus.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.