As gevolg van die buitengewone omstandighede het topbestuur die besluit geneem dat daar vir die res van April geen uitgawes van Vrouekeur sal wees nie
Landwyd het dit nou moeilik (selfs onmoontlik) geword om tydskrifte te koop en daar is vele redes daarvoor. Ons het onlangs op sosiale media in opdrag van topbestuur aangedui dat daar onwettige aanlyn weergawes van tydskrifte op WhatsApp-groepe en Facebook aangestuur word.
Vrouekeur is deel van Caxton Magazines en ‘n hele paar van ons tydskrifte is op dié manier versprei. Maar dis nie net ons nie, Media 24 en ander mediahuise se tydskrifte is op dieselfde manier versprei. Waar ons gewoonlik in mededinging met mekaar is, staan ons in hierdie situasie saam (soos mense veronderstel is om te doen) om die onwettige verspreiding van tydskrifte te bekamp. Ons doen dit omdat ons almal van die inkomste van tydskrifte afhanklik is. As ons tydskrifte gratis gaan uitgee, gaan ons binne weke nie werk hê nie. Met ander woorde, daar gaan nie tydskrifte wees nie, wat beteken almal verloor. Jy kan nie ‘n sake-onderneming sonder inkomste bedryf nie. Dit het niks met gierigheid te make nie, dit maak gewoon sakesin.
Daar is mense wat ons vreeslik kritiseer omdat ons lesers gevra het om die onwettige aanstuur van die tydskrifte te stop. Ander verstaan weer die dilemma. Elke mens het die reg tot ‘n mening, maar vir diegene wat so te velde trek, wil ek vra: Sou jy jou harde werk (wat jou geld gekos het om te produseer) selfs in hierdie moeilike tye gratis vir mense gee?
Een van die redes waarom tydskrifte nie gedruk word nie, is omdat drukkers net noodsaaklike drukwerk met so min as moontlik personeel mag doen. Dieselfde geld vir verspreiders. Ons kan almal vanuit die gemak van ons huise die tydskrifte aanmekaarsit (wat ons inderdaad tans vir toekomstige uitgawes doen), maar tydskrifte mag tans nie gedruk en versprei word nie, omdat dit aan die een kant die mense wat hierdie werk doen, se lewens in gevaar stel deur elke dag te gaan werk, maar ook omdat dit aan die ander kant nie lewensnoodsaaklike artikels is nie. Niemand gaan doodgaan as hulle vir ‘n tydperk nie ‘n tydskrif kan kry nie – en dit sê ek op geen manier ligsinnig nie.
As gevolg van die buitengewone omstandighede het topbestuur die besluit geneem dat daar vir die res van April geen uitgawes van Vrouekeur sal wees nie. As die staat van inperking wel teen 16 April gelig word, sal ons daarna weer uitgawes druk en versprei. In dié stadium werk ons aan uitgawes wat in Mei sal verskyn. Ons hoop (soos almal) dat dit moontlik gaan wees, maar niemand weet wat die toekoms inhou nie. Ons is in buitengewone omstandighede en dit verg buitengewone moed, geduld, begrip en medemenslikheid.
In die lig van bogenoemde is my brief vir hierdie week.
Dis 30 Maart 2020. Ons is op dag vier van die nasionale lockdown in Suid-Afrika. Lockdown, of as mens die regte Afrikaanse vertaling daarvoor gebruik, ‘n staat van inperking, is nie ‘n woord wat vir almal dieselfde beteken nie. As jy gesond is, ‘n dak oor jou kop en kos in jou huis het, is jy een van die gelukkiges. In ‘n land soos Suid-Afrika waar die gaping tussen dié wat het en dié wat niks het nie baie groot. Vir dié wat niks het nie, is lockdown katastrofaal.
Van kleins af fassineer geskiedenis my. My gunstelingboeke is biografieë en dokumentêre flieks oor geskiedkundige gebeure is bo-aan my lys. Rolprente wat op ware gebeurtenisse gegrond is, is altyd my eerste keuse. Ek het bykans als oor die Tweede Wêreldoorlog gelees en gekyk en mens sou hoop dat die afgryse van dié oorlog mense van verdere oorloë sou weerhou, maar duidelik het dit nie. Die mensdom leer mos nie uit die geskiedenis nie, dis hoekom oorlog sowaar vandag nog deel van baie mense se lewe is. Dis hoekom daar vlugtelingkampe is.
Die probleem met oorlog is, voor jy dit nie self ervaar het nie, is die kans skraal dat jy jou die situasie kan indink. As die bomme nie om jou val nie, jy nie bykans van honger omkom nie of voor die gevaar moet vlug nie, is dit vir die meeste mense iets wat doer ver met ander mense gebeur. Oorlog bring mense se ware kleure na vore. In boeke en flieks lees en sien jy mense wie se optrede bewonderenswaardig was en diegene wie se gedrag onmenslik was.
Mense se gedrag in ’n nie-oorlogsituasie is vir my ’n aanduiding van wat ek van hulle in oorlogtye kan verwag en of ek wil hê hulle moet deel van my span wees, al dan nie. Gedragspatrone wat vir my tekenend van jou menswees is, is hoe jy bestuur en met onder andere kelners praat. Dit sê soveel van mense – sonder dat jy enigiets van hulle weet. Sedert die uitbreek van die koronavirus, is daar nog iets wat mense se karakter verklap – jou reaksie op dié situasie. Die reaksie van sommige mense laat my sidder en ek kan my net voorstel hoe hulle in ’n oorlogsituasie sou optree. Ander se gedrag laat my weer in die goedheid van mense glo.
Wat ek wel weet, is dat lockdown beteken niks werk soos wat dit gewerk het nie. Normaal bestaan nie meer soos ons dit geken het nie. Dis verby. Wanneer hierdie pandemie gestop is en mense wêreldwyd weer kan terugkeer werk toe, gaan daar ‘n ander normaal wees. As niemand werk toe mag gaan nie en niemand op straat mag wees nie (behalwe die mense van wie ons voortbestaan afhanklik is), gaan ’n hele paar dinge wat maklik as vanselfsprekend aanvaar word, nie gebeur nie. En dié mense wat ons met ons voortbestaan help, is uiteraard dokters en verpleegsters en navorsers wat almal onverpoosd werk om siek mense gesond te probeer kry en ‘n kuur vir hierdie aaklige virus te ontwikkel. Dis ook boere wat ons van kos kan voorsien – anders sterf ons in elk geval van die honger – maar dit is ook die mense wat ons in normale omstandighede so maklik oorsien.
Die belangrikheid van mense wat sogenaamde “minderwaardige” werk gedoen het in die tyd toe ons gedink het die lewe normaal is, is nou baie duidelik. Wat gaan gebeur as vullis nie verwyder word nie? Wie bedien ons in winkels wanneer ons in lockdown vinnig noodsaaklikhede gaan koop? Dis nie mense wat baie geld in die bank het nie. Dis mense wat dikwels van die hand na die mond leef. Dit laat mens wonder of dit reg is dat mense wat dié werk doen so min betaal word? Is dit regtig ’n “minderwaardige” werk? Is ons prioriteite reg? Dalk is dit tyd vir selfondersoek en diepe nadenke oor hoe ons ander mense behandel, hoe ons hulle ag en hoe ons teenoor ons medemens optree wanneer als met ons goed gaan.
’n Krisis, noodsituasie of oorlog verander nie mense nie. Dit ontbloot mense wat van nature selfsugtig, gulsig en arrogant is. Hulle word net in sulke situasies ontmasker. Wat gaan mense oor 100 jaar in geskiedenisboeke oor Life in the Time of Corona Virus lees? Hulle gaan lees van mense wie se gedrag bewonderenswaardig was en diegene wie se gedrag onmenslik was. Hoe ek in geskiedenisboeke onthou gaan word, hang van my af.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.