Drie artikels laat my dié week skryf: “Ek is verslaaf aan kos”, “Om te verdwyn soos die jare aanstap” en “Die 3 groot siektes”. Drie verskillende onderwerpe met ‘n gemene deler: gevoelens.
Mense verskil wêreldwyd. Ons dink nie almal dieselfde nie, glo verskillend, lyk nie na mekaar nie, praat verskillende tale … die lys van andersheid is lank. Die een ding wat ons almal egter gemeen het, is gevoelens. Maak nie saak waar mense hulle op die aardbol bevind nie – dit wat met ons gebeur, vir ons gesê word, hoe ons behandel word – die impulse wat ons breine registreer, dit gaan sit in ons lywe en word deel van ons menswees.
Die goeie en lekker goed, maar ook die slegte en afbrekende goed, maak ons wie ons is. Waaroor ‘n mens nie altyd dink nie, is dat jou woorde en dade ‘n besliste invloed op die mense met wie jy in aanraking kom of mee saamleef of -werk se menswees het. Ons is geneig om eerder te fokus op dit wat met of aan óns gedoen word. Ek het nog nooit ‘n gewigsprobleem gehad nie – dit is waarskynlik te danke aan my gene en die feit dat ek net eet as ek honger is. Diëte en wroeg oor my lyf was nog nooit deel van my menswees nie. Ek het dus nog nooit in ‘n oorgewig mens se skoene geloop nie. Dit maak dit vir my maklik om ‘n oordeel te vel of ‘n mondvol te hê oor mense wat te veel gewig met hulle saamdra.
Tot ek hierdie week se artikel “Ek is verslaaf aan kos” gelees het. Vir die eerste keer het ek besef dat dit maklik is om te sê mense wat oorgewig is, moet minder eet. Min het ek besef dat diegene wat te veel eet, inderdaad dalk ‘n verslawing het. Dis Anneke Kruger se woorde: “Iemand wat aan drank en dwelms verslaaf is, gaan na ‘n rehabilitasiesentrum toe en het twee maande om hulself te rehabiliteer. Iemand wat aan kos verslaaf is, kan nie twee maande sonder kos oorleef nie en word minstens drie maal per dag met die verslawing gekonfronteer”. Dit het my beter insig in oorgewig mense se situasie gegee. Trouens, die hele storie het my iets geleer en ek sal in die toekoms moeite doen om nie vanuit my eie perspektief ‘n waardeoordeel oor iemand wat swaar aan ‘n lyf en gepaardgaande emosies dra, te maak nie.
Die artikel oor “Die 3 groot siektes” kyk na drie dinge waarmee heelwat vroue stoei: selftwyfel, inskiklikheid en vergelyking. Ek dink nie noodwendig dit is net vroue wat met hierdie deel van hul menswees sukkel nie – mans kan dieselfde daaroor voel. Wat my opval van die artikel is dat dit weer eens gaan oor hoe mense oor hulself voel en hoe dit hul menswees beïnvloed. Wat my by “Om te verdwyn soos die jare aanstap” uitbring. Hierdie artikel sou nie noodwendig 20 jaar gelede dieselfde uitwerking op my gehad het as vandag nie. Toe het die lewe uitgestrek voor my gelê, was my ouers net ouer as wat ek nou is en oudword was nog nie regtig deel van my woordeskat nie.
Mettertyd het ek agtergekom dat dit inderdaad so is dat hoe ouer jy raak, hoe meer word jy gemarginaliseer. In ons samelewing in elk geval. Daar is ander omgewings waar ouer mense juis meer gerespekteer word vir hul wysheid en insig. So sit ek ‘n week terug op een van my gunstelingrestaurante se stoep met parkering reg voor die stoep. Neffens my sit ‘n viriele man so in sy dertigs saam met ‘n vriend. Dis die geluid van koppelaar en petrolpedaal wat ons almal laat opkyk na ‘n redelik ou motor wat deur ‘n gryskopvrou bestuur word met haar ewe grys man wat haar vanuit die passasiersitplek help om in ‘n opdraande en klein parkeerplek in te maneuver. Ek is net so benoud soos die karwag uit Zimbabwe, want ons sien sy gaan die trap tref. Die karwag help haar om sonder skade te parkeer. Geduldig en simpatiek. In skrille kontras hoor ek hoe sê die viriele jong man, sigbaar geïrriteerd: “Genugtig, hoe oud is sy, en sy bestuur nog!” Ek is bly sy is so effens doof en hoor dit nie. Sy’t immers al bestuur toe hy nog in doeke was en hy gaan ook grys word. As hy gelukkig is om so lank te leef.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.