Net soos die tango vereis die huwelik vaardigheid en toewyding en is dit kompleks en uitdagend
Het jy al ’n paartjie gesien tango? As ’n paartjie dit goed kan doen, is dit ’n plesier om hulle dop te hou. En net so ’n gelukkige paartjie, want die artikel “’n Tango met jou maat” in hierdie week se uitgawe sê ’n tango en die liefde het baie gemeen. Net soos die tango vereis die huwelik vaardigheid en toewyding en is dit kompleks en uitdagend.
Die ideaal is ’n huwelik waar die twee dansmaats mekaar verstaan en saamwerk in ’n toestand van sinergie, skryf Anne Marais. Ons pragtige digitale redakteur Dané de Klerk is op 3 November met haar geliefde Wessel Neuhoff getroud. Kyk net hul lieflike foto’s hieronder. Ons is saam met hulle opgewonde oor hul paadjies wat nou saamloop en bly om die twee saam te sien tango. Baie geluk, Dané en Wessel. Ons het ’n paar aanhalings oor die huwelik en die liefde gaan soek:
Die liefde beteken nie dat julle altyd sal saamstem of nooit ’n argument sal hê nie. Dit beteken dat julle ten spyte van die slegte dae nie die lewe sonder mekaar kan indink nie. – Anoniem
’n Gelukkige huwelik gaan oor drie dinge: herinneringe van saamwees, vergifnis van foute en om mekaar nooit in die steek te laat nie. – Surabhi Surendra
Die ware gelukkige einde kom ná ’n storie met baie oppe en affe. – Anoniem
Die verste reis wat ’n mens kan onderneem, is van mens tot mens, deur die hart. – Elsa Joubert
Geen verhouding is net sonskyn nie, maar twee mense kan ’n sambreel deel en saam die storms weerstaan. – Anoniem
Vriendskap is die vonk in ’n huwelik wat verseker dat die vlammetjie enduit brand. – Anoniem
Jy trou nie met die persoon saam met wie jy kan saamleef nie, jy trou met die persoon waarsonder jy nie kan leef nie. – Anoniem
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.