Terwyl ek hier op ‘n grou herfsdag, wat eintlik meer soos winter voel, sit en skryf, dink ek aan ‘n vriendin op Stellenbosch.
Sy, haar geliefde kinders, familie, vriende en kollegas neem vandag afskeid van ‘n besonderse mens, man en pa. Op 30 Maart 2016 het dié man, soos ek vanoggend, opgestaan en uitgesien na die dag wat voorlê. Niksvermoedend. Een van die dinge op sy lysie dié dag was om saam met sy vrou vier putjies gholf te gaan speel voor hulle hul jare lange vriende uit Gauteng vir ‘n drankie by die klubhuis sou ontmoet waar hulle oudergewoonte sou saam kuier, lag en herinneringe skep.
Op 57 was hy gesond, fiks, gelukkig getroud en suksesvol in sy werk. By die derde putjie het hy ‘n perfekte hou geslaan en sy vreugde het duidelik uit die tevrede glimlag op sy gesig gewys, vertel sy vrou. Die volgende oomblik het hy inmekaargesyg. Net daar op die gholfbaan op ‘n gewone dag, met ‘n lysie wat nie naby klaar was nie, het hy gesterf. ‘n Week later word daar vir oulaas van hom afskeid geneem. Hoekom vertel ek die storie? Want ek was juis op daardie tydstip in Stellenbosch vir my ma se 80ste verjaarsdag. En hy is net ‘n jaar ouer as ek.
Waar my pa, ek, my geliefde, my drie broers, hul geliefdes en kinders en jare lange vriende ‘n mylpaalverjaardag van ‘n besonderse mens vier en vir my ma vertel hoekom ons haar liefhet en wat sy vir ons beteken, is daar op dieselfde dorp mense in rou gedompel oor die dood van ‘n man in die fleur van sy lewe. Dis hoe die lewe werk. Dis onvoorspelbaar, soms wreed, soms wonderlik, soms hartseer, soms vrolik, soms moeilik, soms maklik, maar altyd onvoorspelbaar. In ons twintigs, dertigs, veertigs en selfs vyftigs, is daar amper ‘n ontkenning van ‘n einde van die lewe soos ons dit ken.
Ons stap ons paadjies almal niksvermoedend. So asof ons onsterflik is. Tot ons hier rondom 80 begin draai en besef, met ‘n goeie skeut geluk het ons nog ‘n paar jaar se leef oor en dan leef ons met ‘n groter bewustheid van die lewe. Enigeen van ons kan môre-oggend opstaan met ‘n lysie van wat die dag gedoen moet word. Dit kan ons laaste dag wees. Die dood onderskei nie tussen oud en jonk nie. As ek aan my vriend dink en ek blaai op Facebook deur die foto’s van hom en sy geliefdes en vriende, sien ek telkens ‘n mens wat lag. Dis goed om te weet dat hy tot op die einde van sy pad, gelag het.
En die laaste ding wat hy gedoen het, was om ‘n perfekte hou op een van sy gunstelingplekke te speel. Saam met die vrou vir wie hy lief was. Ten spyte van diegene na aan hom se smart en verlies, is dit asof hy vir oulaas sê, onthou om te lag, onthou om die dag aan te gryp en tyd deur te bring met diegene vir wie jy lief is en omgee. Op bl 14 vertel ‘n vrou hoe sy onder finansiële druk geswig het en ‘n baie duur prys moes betaal. Maar sy vertel ook van die liefde en ondersteuning van haar man en kinders in hierdie moeilike tyd.
Soos sy self sê: “My man en my kinders is my alles – my glimlag, my rede om elke dag op te staan en te lééf!” Dís wat die lewe makliker maak. Om te weet jou mense het jou lief vir hoe lank ook al jy leef. As jy jou laaste asem uitblaas, leef hulle hopelik met herinneringe van jou glimlag voort. In die onvoorspelbaarheid van die lewe is dit belangrik om elke dag te leef, maar dit is ewe belangrik om vir jou mense te sê wat hulle vir jou beteken terwyl julle nog almal leef. Ons weet nooit wanneer slaan ons ons laaste perfekte hou nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.