Dalk moet ek weer ’n breiprojek aanpak – diegene wat brei, hekel of naaldwerk doen, weet dat dit terapeuties is en stres ontlaai en ons kan almal doen met ’n skeut stresontlading
In ’n groot rooi hoededoos bo-op ’n boekrak in ons huis bêre ek goed waaraan ek sentiment het en wat ek al jare bewaar.Daar is onder meer my Barbie-pop in, met die patrone vir Barbie-popklere én al die klere wat my ma 50 jaar gelede vir my pop gemaak het. In die hoededoos is daar ook ’n gebreide jassie en ’n replika daarvan vir my babapop van destyds. Dié jassies het my ouma 55 jaar gelede vir my gebrei en jare later het my dogter die einste jassie gedra.
As ek aan my ouma dink, onthou ek onder meer haar lieflike bos krulhare. Ek sien nou nog hoe sy haar vingers deur haar hare trek nadat sy dit gewas het en net so los om droog te word. Haar krulhare het ek (ongelukkig) nie gekry nie, maar ek dra haar naam voort, het haar georganiseerde persoonlikheid geërf en ook haar liefde vir mooi skoene en armbande. Ek kon my verkyk aan haar horlosie waaraan sy verskeie piepklein charms by ’n juwelier laat vasmaak het. En sy het gebrei – aanmekaar. Nie net truie en jassies en komberse nie – ek het gedink sy is baie slim (wat sy was) as sy met vier naalde so al in die rondte gebrei het – met die dunste breidraad denkbaar het sy kunswerke geskep.
In die spaarkamer in my ouers se huis is daar nou nog twee ronde kussings wat sy só gebrei het. Hoe wonderlik is dit dat al is sy nie meer hier nie, ek kan sien wat sy met geesdrif, talent en ywer gemaak het. Uiteraard het sy my ma ook leer brei en my ma het my leer brei, hoewel ek moet erken jy gaan my nie vandag sommer met breipenne in die hand vang nie. Dalk moet ek weer ’n breiprojek aanpak – diegene wat brei, hekel of naaldwerk doen, weet dat dit terapeuties is en stres ontlaai en ons kan almal doen met ’n skeut stresontlading.
Dis juis die Vrouekeur-lesers wat van handwerk hou vir wie ons onlangs ’n versameling van ons gewildste hekelpatrone saamgestel en gepubliseer het. Ons het nou ook ’n versameling van die gewildste breipatrone bymekaargesit en dié boek is vanaf eerskomende Maandag 23 Maart op die tydskrifrakke beskikbaar. Ek hoop daar is baie mense wat truie, komberse en allerlei mooi goed uit hierdie boek gaan brei waarna geliefdes oor 50 jaar kan kyk en dink aan die hande wat dit gemaak het.
Op dié foto, wat ek 30 jaar gelede geneem het, dra my dogter, Jana Jacobs, die einste jassie wat my ouma 55 jaar gelede vir my gebrei het en my seun, David Hugo Jacobs, dra ’n trui wat my ma vir hom gebrei het.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.