Foute is deel van menswees en hulle gebeur. Ek het al baie foute in my lewe gemaak, sommige groter as ander met meer ingrypende gevolge.
Die reaksie van mense op my foute het my dikwels verras (ten goede en ten slegte), maar in die proses het ek ook agtergekom dat mense se reaksies in sulke situasies meer oor die ander mense laat blyk het, as oor myself. Ek het ook geleer dat die beste manier om op ‘n fout te reageer wat ek gemaak het, is om dit te erken en ‘n oplossing te vind. Om verskoning te vra, beteken nie ‘n mens regverdig die fout nie, maar die woord “verskoning” leen hom maklik daartoe om jou van jou fout te distansieer en te verskoon. Ek vind die woord “apologie” in hierdie konteks beter. Ek het onlangs die volgende raakgelees:
Moenie ‘n apologie met ‘n verskoning ruïneer nie.
‘n Opregte apologie behels drie dinge: 1 Ek is jammer. 2 Ek het ‘n fout gemaak. 3 Wat kan ek doen om dit reg te stel?
Op bl 66 en 67 is daar dié week twee ekstra sirkelblokraaisels. Teen dié tyd weet lesers wat ons blokraaisels invul, daar het in 12 Augustus en 9 September foute met hierdie raaisels ingesluip. 1 Ons is jammer. 2 Die foute is ons s’n – dis nie XWord, wat ons raaisels saamstel, se fout nie. 3 Ons stel dit reg deur die raaisels, wat nie in die regte uitgawes geplaas is nie, hierdie week te publiseer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.