Dit is net nou die dag wat ons ’n dikker uitgawe drukkers toe gestuur het – die Kersuitgawe – en hier is ons weer met ’n dikker uitgawe wat vir twee weke op die rakke is – spesiaal vir die Paastyd.
Die tyd hardloop onder ons uit en voor ’n mens jou oë uitvee, is dit weer Krismis, maar nou is dit eers Paasfees. Twee van die praktiese wenke in die artikel, “Moeg, moeër, moegste” op bl 30, is om jou reuksintuig in te span en na musiek te luister om jou energie te laai.
Hierdie twee wenke het my laat dink aan herinneringe wat reuke en musiek by my oproep. Ek weet nie of dit by almal die geval is nie, maar reuke kan my onmiddellik in tyd terugneem na vroeër tye. Meer so as sig. Hierdie tyd van die jaar is daar ’n reuk in die veranderende seisoen wat my aan verskeie Paastye laat dink. Ek word weer agt jaar oud en soek Paaseiers in ’n tuin met die gevoel van koue gras onder my kaal voete. Eweneens neem musiek my terug na die verlede. Baie jare gelede was ons vier kinders saam met my ouers op pad met vakansie en het deur die nag gery. Ek het die venster uitgetuur na die miljoene sterre en die maan in die lug en die donker wat ons omvou het. Die hemelse klanke van Mozart wat my pa oor die motor se radio/kassetspeler gespeel het, het ’n kalmte oor my gebring en die vrees vir die donker daarbuite getemper. Ek het rustig en geborge gevoel saam met my pa, ma en drie boeties.
By ’n klein Karoo-dorpie het my pa petrol ingegooi. Die klanke van Mozart het stilgeraak toe hy die motor afsit en uitklim. Dis toe wat ek die opgefrommelde motorwrak neffens ons by die vulstasie opmerk. Toe my pa weer in die kar klim, wou ek weet wat gebeur het. Die petroljoggies het hom vertel. Dis al wat oorgebly het van ’n kar waarin mense, soos ons, vroeër die dag op pad na ’n vakansieplek toe was. Die musiek het verder gespeel. Waar die musiek vroeër ’n gevoel van vrede en geborgenheid gebring het, het ek nou ook ’n ander onbeskryfbare gevoel ervaar en was die musiek terselfdertyd steeds mooi, maar ook erg droewig.
Tot vandag toe, as ek na Mozart se Simfonie nr 40 in G mineur luister, word ek weer 12 jaar oud, sit ek agter in ’n Volvo tussen drie slapende boeties en ry deur die donker Karoo. Ek sien my ma en pa voor in die motor en ek sien die miljoene sterre en die maan in die lug en ek wonder wie was die mense daardie dag in die kar waarvan net ’n opgefrommelde wrak oorgebly het. En ek ervaar ’n gevoel van geborgenheid, maar ook droefheid, want ek dink dis daardie nag in die Karoo wat ek besef het dat die lewe en die dood hand aan hand met mekaar loop, dat niks ’n gegewe is nie en dat ’n mens se lewe in ’n oogwink kan verander of eindig. Hierdie Paastyd is baie mense onderweg om saam met geliefdes te kuier of om ’n breuk van die alledaagse te neem en energie te laai. Geniet elke oomblik, skep herinneringe, wees goed vir mekaar en ry veilig.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.