Ek is elke week opgewonde oor die uitgawe wat ons drukkers toe stuur. Uiteraard hoop ons dit wat ons vir ons lesers aanbied, maak hulle ewe opgewonde.
Hierdie week is dit Shanda Luyt se gesprek met die kunstenares Sandra Pelser en Nicolas de Beer, ons nuwe verfghoeroe, wat ons stap vir stap wys hoe om nuwe lewe in ’n ou meubelstuk te blaas, wat my noop om iets oor kreatiwiteit te sê. Ek het omtrent ’n jaar gelede van Sandra se werk op Facebook raakgesien, onmiddellik daarvan gehou en geweet ons moet hierdie vrou wat vroue verf aan ons lesers voorstel. En Nicolas het ek en my dogter raakgeloop toe ons een Saterdag ’n werkswinkel by sy studio bygewoon het.
Dit was soveel pret dat ek besluit het om ander mense ook daarvan te vertel, want ons raak so vasgevang in ons alledaagse lewe dat ons nie tyd vir speel het nie. Ons probeer te hard om net te oorleef. Dis Albert Einstein wat gesê het: “Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het” en “Kreatiwiteit is aansteeklik, maak seker jy steek ander aan”. Ek het al baie mense hoor sê dat hulle nie kreatief is nie. Nie almal van ons is Michelangelo’s nie, en nie almal van ons gaan vroue so goed en so mooi soos Sandra kan verf nie, maar ek is oortuig daarvan dat ons kreatiwiteit wat ons as kinders spontaan uitleef, deur die grootmenswêreld onderdruk word, in so ’n mate dat ons bang is om ons hand daaraan te waag, want netnou faal ons.
Die terapeutiese waarde van skep kan ’n mens nie onderskat nie. Om met jou hande iets voort te bring, kan dalk net die medisyne wees wat ons nodig het. Soos Demi Lovato sê: “Kreatiwiteit is wat my help om van baie van my innerlike demone te ontsnap.” Blaai na bl 14 en lees Sandra se storie – dit sal jou inspireer – en blaai dan na bl 48 en sit die naweek opsy om van stres en die alledaagse te vergeet. Want soos Mary Loo Cook sê: “Kreatiwiteit is om te ontdek, te eksperimenteer, te groei, risiko’s te neem, reëls te oorskry, foute te maak en pret te hê.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.