Na aanleiding van Anne Marais se artikel, “Nommerpas vir jou” dié week, waag ek dit weer om iets oor die liefde te skryf
’n Vriendin plaas dié geheim van gelukkige lewensmaats onlangs op haar Facebook-muur:
1 Hulle erken mekaar en reageer op mekaar se nodigheid vir aandag.
2 Hulle prioritiseer intimiteit en seks.
3 Hulle is in mekaar se lewens en wêrelde geïnteresseerd deur uit te vra.
4 Hulle ondersteun mekaar se groei en die aanleer van nuwe dinge.
5 Hulle sien probleme as gemeenskaplike probleme wat opgelos moet word.
Op die einste sosiale-media-platform lees ek soms plasings raak wat my laat wonder of mense glad nie dink voor hulle iets die kuberruim instuur nie. Die geykte opvattings van die sogenaamde rol van onderskeie lewensmaats laat my sidder – dit klink vir my alte veel na iets uit die Middeleeue met die swart-en-wit rolle vir mans en vroue. Ek rol net telkens my oë.
In my wêreld sien ek liefde tussen lewensmaats gewis nie as ’n hiërargiese rolverdeling nie en ook nie in die konserwatiewe, tradisionele konteks nie. My idee van ’n lewensverhouding met ’n ander mens is onder meer een van wedersydse vertroue, respek, bewondering, ondersteuning, begrip, geduld en deernis. Van rolle is daar nie sprake nie. Soms neem ek die leiding en soms neem my geliefde die leiding. Daar is in ons huis nie iets soos die hoof van die huis nie. Dis ons albei se huis en veilige hawe waar ons net mens kan wees.
Van huis gepraat. Om saam huis op te sit, is op sigself ’n uitdaging, want twee mense kom uit twee verskillende huise en het hul eie persoonlikheid en identiteit (en geite ook nog). Om saam te woon, maar meer nog, om saam te bly, is nie iets wat sommer net van dag een af seepglad verloop nie. Of dit regtig Leo Tolstoi was, weet ek nie, maar wie dit ook al gesê het, sê iets wys: Wat tot die sukses van ’n gelukkige lewe saam bydra, lê nie soseer in hoe aanpasbaar julle is nie, maar in hoe julle onaanpasbaarheid hanteer. Ek dink nie daar is regtig ’n geheim vir ’n gelukkige lewe saam nie, maar wat ek wel weet, is dat ek gelukkiger saam met my geliefde is as wat ek sonder hom is.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.