Ek dink om gelukkig te wees, is soos om fiks te wees. Hoe meer jy oefen, hoe fikser word jy
Dis Heath Ledger wat gesê het: “Everyone you meet always asks if you have a career, are married, or own a house as if life was some kind of grocery list. But no one ever asks you if you are happy.”
Wat maak mens gelukkig? As ek in my daaglikse lewe om my rondkyk, wonder ek hoe sommige mense deur die lewe – selfs net deur die dag – kom, want as hul gesigte ’n aanduiding van hul gemoedstoestand is, is hulle alsbehalwe gelukkig. Ek dink om gelukkig te wees, is soos om fiks te wees. Hoe meer jy oefen, hoe fikser word jy. Maar daar is ’n ander kant van die muntstuk ook – jy kan ook fiks in ongelukkigheid wees. Hoe meer jy iets oefen, hoe beter gaan jy daarin raak. Dit geld vir als in die lewe.
Om fiks te word, gebeur nie oornag nie – niemand wat tien kilometer gemaklik kan hardloop, het net een dag opgestaan en dit gaan hardloop nie. Dit verg ’n doelbewuste besluit. Jy doen dit stap vir stap (volg selfs ’n program) en later is dit gewoonte en kan jy nie meer daarsonder nie. Ek het onlangs 30 gewoontes raakgelees – stappe wat mens kan volg om in geluk en welstand fiks te wees:
- Staan vroeër op.
- Belê in jouself.
- Beweeg soms uit jou gemaksone.
- Belê in ervarings.
- Verdiep jou verhoudings.
- Sê makliker “nee”.
- Lees.
- Beoefen ’n stokperdjie.
- Skep iets.
- Sit elektroniese skerms minstens ’n uur voor jy gaan slaap af.
- Leef groen.
- Bestee tyd in die natuur.
- Koop slimmer.
- Koop minder.
- Gooi uit wat jy nie regtig nodig het nie.
- Kies jou vriende wys.
- Beskerm jou vel.
- Mediteer daagliks – maak tyd om stil te wees.
- Eet met sorg.
- Wees aktief.
- Drink water.
- Hou tred met jou doelwitte.
- Doen die moeilikste take en dit waarvan jy nie hou nie eerste.
- Verdeel jou dag in drie dele: agt uur vir werk, agt uur vir jouself (en jou geliefdes), agt uur vir slaap.
- Doen elke dag iets waarvan jy hou.
- Doen elke dag iets waarvan jy nie hou nie, maar wat gedoen moet word – dan hoop dit nie op nie.
- Probeer minder uitstel.
- Maak sommige dae emosionele hersteldae.
- Praat minder oor wat jy wil doen, doen dit net.
- Beoefen dankbaarheid.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.