Teen dié tyd weet ’n mens dat ouerskap gewis nie meer is wat dit 100 jaar gelede was nie
In die afgelope paar dekades het daar gelukkig groot veranderinge (en verbeteringe) in die tradisionele rolverdeling van Ma en Pa vastrapplek gekry.
Deesdae is die nukleêre gesin met ma wat die versorger en pa wat die voorsiener is, gewis nie meer die norm nie. Die konsep van ouerskap het grense oorgesteek. Kinders met twee ma’s of twee pa’s is nie meer ongewoon nie, sogenaamde “stiefouers” is nie meer rillerstories van Aspoestertjies nie en enkelouers is geen vreemde verskynsel nie – hetsy uit keuse of lewensveranderende gebeure.
JB Roux kyk hierdie week spesifiek na gevalle wanneer pa’s “ma” en “pa” staan. Ek weet van heelwat pa’s wat sowaar beter versorgers as ma’s is, maar om ’n goeie ouer te wees, het niks met jou geslag uit te waai nie. Ek weet van mense wat in tradisionele gesinne grootgeword het en ’n hoop bagasie met hulle saamdra en ek weet van mense wat in nie-tradisionele gesinne grootgeword het en lig reis omdat daar ’n positiewe energie in die huis was. Kinders het nie gevra om gebore te word nie. En om kinders te hê, behels veel meer as die verrassing om te sien wie se tone en wie se neus die pasgeborene het.
Wat ek ook weet, is dat ’n mens net een kans het om ’n kind groot te maak. Daar is nie ’n delete-knoppie om te druk en van voor af te begin nie. As jy dus besluit om kinders te hê, moet jy weet dit is ’n uiters verantwoordelike taak, want jou kinders suig jou optrede soos ’n spons op. Een van die dinge wat ek my met die koms van my kinders voorgeneem het, is dat hulle nie verlengstukke van my is nie. Hulle moet hul eie menswees ontdek en dit wat hulle as goed in my as mens beskou, kan hulle deel van hul menswees maak en dit wat hulle as minder goed beskou, kan hulle gerus agterlaat. As ek terugkyk na my kinders se grootwordjare en ek iets sou wou verander, sou ek meer gelag en minder gestres het, al lees ek onlangs hierdie snaakse (maar waar) woorde van nog ’n gesoute ouer: Noudat ek weet wat ouerskap behels, dink ek ek moet ’n gyselaaronderhandelaar word – dit lyk vir my minder stresvol.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.