Hoe gebeur dit dat sommige mense kriminele word en ander verantwoordelike burgers?
Die antwoord(e) op hierdie vraag verg ’n PhD-tesis, nie ’n kort briefie in ’n tydskrif nie. Dit is natuurlik as daar antwoorde is.
Wat presies beteken die woord “natuurlik”? Dis ’n woord wat ons daagliks gebruik en waaroor ons te min nadink. Slaan jy die woord in die HAT na, is daar etlike verduidelikings vir die gebruik van hierdie woord. Onder meer: volgens die natuur; nie kunsmatig nie; aangebore; verklaarbaar; in ooreenstemming met die werklikheid; vanselfsprekend; word as ’n stopwoord gebruik. Hierdie uiteenlopende verduidelikings bewys die punt wat ek wil maak oor wat vir my natuurlik is, maar nie vir ander nie.
’n Wyse akademikus verduidelik dit so: As jy die woord “natuur” wil verstaan, moet jy konteks daaraan gee en dié woord met die woord “kultuur” vervang. Voorts verduidelik hy: Kultuur sedimenteer deur alledaagse gebruike en word só “natuur”. Dit word gewoonte, maar dit word veel meer as dit – dit word deel van jou lyf. Met ander woorde, praktyke in ’n samelewing werk so op ons in, dat dit inderdaad aangebore, verklarend, werklikheid, vanselfsprekend word. Dit word “natuurlik”. Die probleem is: Kultuur is nie vir almal dieselfde nie.
Kom ek gee ’n radikale voorbeeld: In suidoostelike Papoea, wat deel van Indoniese Papoea-Nieu-Guinee uitmaak, woon die Korowai-stam. Dit blyk dat hierdie mense tot 1970 nie van die bestaan van ander mense geweet het nie. Vandag nog woon hulle in boomhuise op stelte sowat 45 meter van die grond af. Om by jou huis uit te kom, klim jy teen die pale uit. In hierdie samelewing is daar nie koerante waarin mense se SMS’e en briewe geplaas word waarin veral vroue wat nie “na behore” geklee is, verkla word nie. Niemand word ook gestraf as hulle nie van kop tot toon in ’n swart kleed bedek is nie.
Jy word letterlik nie op jou baadjie getakseer nie, want almal is kaal. Asof dit die natuurlikste ding op aarde is. En dit is. Vir hulle. Van geboorte af is dit praktyk en dis vir hulle so vanselfsprekend dat dit hul werklikheid is. Met ander woorde: Hul kultuur en my kultuur kan nie dieselfde natuur wees nie. In my natuur gaan ek nie sommer kaal loop nie. Nommer een wil ek nie swaartekrag se effek so blatant ten toon stel nie, maar ek sal waarskynlik vir waarneming iewers heen gestuur word as ek sonder ’n draad klere by die werk opdaag. Want dis mos onnatuurlik!
Dit bring my terug na ’n antwoord op my oorspronklike vraag. As jy in enige samelewing (ook waar almal klere dra) herhaaldelik aan praktyke van kriminele aard blootgestel word, is die kans groot dat dit vir jou vanselfsprekend word om te bedrieg, te steel, moord te pleeg … Kleintyd al het my pa vir my dit so verduidelik toe ek wou weet hoekom daar diewe is: As jy eers een keer gesteel het, is die volgende keer makliker en die volgende nog makliker. Dit word gewoonte, dit word jou werklikheid, dit word deel van jou lyf. Ons gebruik taal onnadenkend. Dis hoekom ons mekaar misverstaan en veroordeel. Want wat vir my natuurlik is, is nie vir alle mense natuurlik nie. En my werklikheid is nie die enigste werklikheid nie. As ons dit in gedagte hou, kan ons dalk begin om wêreldwyd vreedsaam saam te leef. Maar ek het natuurlik nie al die antwoorde nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.