’n Uniform gee vir sekere mense (veral dié met min selfrespek) die gevoel dat hulle ’n supermanpakkie aan het wat hulle buitengewone mag en krag gee
Een van die menstipes wat my sekerlik die meeste irriteer, is diegene wat hul sogenaamde magsposisies misbruik.Frederik de Jager se rubriek op bl 45 het my kop by dié tema laat draai. Ek en my broers is al vier in ons vyftigs – so ons skooldae is gelukkig lankal iets van die verlede. In daai verlede, was dit egter glad nie vreemd vir onderwysers om kinders te slaan nie.
Dit was ook glad nie vreemd as onderwysers kinders verbaal verneder het nie. Vir my was, is en sal sulke optrede telkens brutaal en onaanvaarbaar wees. Nou voor alle onderwysers van gister, vandag en môre hulle bloedig vir my vererg, wil ek my stellings en menings kwalifiseer. Ek verwys nie na alle onderwysers nie – net soos ek ook nie na alle mense in uniforms gaan verwys nie. En ja, ek weet onderwysers het deesdae ’n uiters uitputtende en stresvolle werk met belhamels (ongeag geslag) wat geen respek vir enigiemand het nie, maar dis ’n debatteerbare onderwerp op sigself.
Terug by die verlede. My ouers kuier oor die afgelope Desembervakansie by ons en in ’n stadium vertel my ma my van een van my broers se ondervinding met ’n brutale onderwyser (die detail weerhou ek eerder) in sy matriekjaar. Geskok wil sy weet of ek daarvan geweet het. Jip, ek het, maar ek het ook eers jare later daarvan gehoor, anders was ek daai dag as die oudste en die enigste suster in die hoof se kantoor. Moederlief is sommer opnuut de joos in en wens sy het geweet – daai meneer sou sy rieme styfgeloop het.
Dis maar een van die stories – drie broers en elk vyf jaar op hoërskool lewer baie soortgelyke voorvalle op. In my eie skooldae onthou ek goed hoe die wiskunde-onderwyser in matriek (hy was waarskynlik hoogstens ses jaar ouer as ons) ’n rooi rottang gehad het. Dié het hy graag uitgehaal en seuns (veral dié wat nie tropdiere was nie) op die stoep buite die klas geslaan. Daai arme seuns is voor die klas verneder – almal het geweet wat gaan gebeur as hy ’n seun buitetoe neem en die inkomslag was nog erger. Met onderdrukte trane van pyn, woede en verleentheid het die “getugtigde” ingekom en op sy plek gaan sit – die onderwyser het selfvoldaan met klasgee voortgegaan.
Ek onthou goed hoe vier Duitse uitruilstudente in 1977 op die grasperk buite die klas gesit het en my geskok in die pouse vertel het van ’n man wat ’n kind buite ’n klas met ’n rooi stok geslaan het. Vir Europeërs was dit wat vir ons “gewoon” was en waarteen ons nie gewaag het om openlik in opstand te kom nie, ondenkbaar. Nou raak ek sommer weer de joos in, want só iets kan mens nie onsien nie. Ek is ten volle anti-lyfstraf – daar is geen manier wat dit goedgepraat kan word nie.
Ek weet ek is in sommige mense se boeke nou op dun ys, maar dis my mening. Ná skool was dit die weermag wat op die jongmans gewag het. Afgesien daarvan dat politici hul magsposisies misbruik en vir ons gelieg het, onder meer oor dié oorlog, gee ’n uniform vir sekere mense (veral dié met min selfrespek) die gevoel dat hulle ’n supermanpakkie aan het wat hulle buitengewone mag en krag gee. Almal in my vriendekring het stories van ’n sersant, ’n korporaal of iemand met ’n streep of twee op die arm wat daarop uit was om die lewe vir die “ondergeskiktes” hel te maak. Dís ’n wêreldwye euwel – ek het al talle flieks oor oorlog gekyk en in bykans elkeen is daar ’n magsbehepte soldaat met ’n rang.
Terug by Duitsland – daai simpel mannetjie met die verskoning vir ’n snor wat die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak het, is ’n goeie voorbeeld van die misbruik van mag tot die uiterste van boosheid. Christopher Reeve het oor sy rol as Superman dié wysheid en insig gehad: “What makes Superman a hero is not that he has power, but that he has the wisdom and the maturity to use the power wisely. From an acting point of view, that’s how I approached the part.” Lees Frederik se storie van sy dae in die weermag – as ou Speknek maar net geweet het hoe sy “onderdane” vir hom lag. Respek kan mens nie met ’n posisie, ’n titel, ’n rang, ’n uniform of geld afdwing nie en dit gee jou ook nie superkragte nie. Respek is iets wat jy kry as jy dit gee.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.