Skole landwyd begin weer hierdie week. Vir dié ouers wie se kinders die eerste keer grootskool toe gaan, is dit ’n dag van gemengde gevoelens.
Knoppe in kele (ouers en kinders s’n) is niks ongewoons nie. Dit laat my terugdink aan my eerste skooljaar in 1966 in juffrou Venter se klas. In daardie stadium was my twee jonger broers nog nie gebore nie, en ek en my broer, Paul, was onafskeidbaar.
Dit was aaklig om die hele dag van hom af weg te wees. Juffrou Venter het waarskynlik gedink ek het ’n blaasprobleem, want ek het dwarsdeur graad 1 ’n paar keer per dag gevra om “kamer te verlaat” en het dan eers ’n versie van verlange in die badkamer met die klein rooi houttoiletsitplekkies gaan ween. Ek onthou dit soos gister. Ek onthou ook die dag toe hy as driejarige by my klaskamer opgedaag het; alleen die pad gevat na sy sussie toe. Vyftig jaar later het hy steeds ’n besonderse sin vir rigting en wil ek steeds soms in die stilligheid huil as ek verlang.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.