Die storie van Dolfie Maloy op bl 12 het verskeie emosies by my gewek. Van verbystering dat een mens soveel trauma in een lewe moes ervaar, ongelooflike woede en veragting vir mense wat kinders misbruik en ‘n vrou wat nooit ‘n ma moes wees nie, tot ‘n diepe bedroefdheid oor die wreedheid wat die lewe vir baie mense inhou.
Om te praat van die “mense” in Dolfie se lewe, is weersprekend, want wat hulle aan Dolfie gedoen het, is nie “menslik” nie. Maar verder in die storie kry ek weer moed vir die mensdom as ek lees wat ander mense later in sy lewe vir hom beteken het. Ek kan my nie eens in hierdie man se skoene probeer indink nie. In vergelyking met sy nagmerrie-ervarings lei ek ‘n droomlewe en mense soos ek het inderdaad absoluut niks om oor te kla, wroeg, ween of stres nie.
Dit sou arrogant van my wees om sy ervarings met die klein bultjies op my lewenspad te vergelyk en dan met ‘n paar slim aanhalings te probeer vertel hoe ek opdraandes in my lewe getakel het. Tog wil ek weer Viktor Frankl aanhaal, want dié man se omstandighede is iets wat ek my ook nie kan indink nie. Hy mog dus iets te sê hê oor die oorlewing van onmenslike omstandighede en die verwerking van wreedheid.
Die laaste menslike vryheid is die vermoë om jou ingesteldheid onder sekere omstandighede te kies.
Terselfdertyd leer ek by Thor Heyerdahl wat gesê het: Omstandighede is die oorsaak dat ons optree soos wat ons doen. Ons moet dit altyd in gedagte hou voor ons die dade van ander veroordeel. Dit het ek aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog besef.
En dit laat my wonder (nie regverdig nie) oor die molesteerder en die ma vir wie ek so kwaad is. Wat was die omstandighede wat hulle gevorm en tot hul gedrag bygedra het? Die lewe is nie eenvoudig nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.