Op ’n skaal van een tot tien registreer slegte goed wat met ons gebeur blitsvinnig op nommer 10.
Uiteraard verwys ek nie hier na werklik ingrypende gebeure in die lewe wat eintlik ver bo nommer 10 registreer nie en waarmee ’n mens leer saamleef, maar waaroor jy nooit werklik kom nie. Ek praat van goed wat jou dag kan verwoes, maar eintlik nietighede is.
Ek het onlangs die boek, Nujeen, gelees wat deur Nujeen Mustafa, saam met Christina Lamb, geskryf is. Dit handel oor ’n jong meisie wat saam met haar sussie uit Aleppo, Sirië, gevlug het om van die onmenslikheid wat in daardie land aan die gang is, weg te kom. Toestande wat ’n mens jou nie in jou wildste drome kan voorstel nie! ’n Mens sou hoop ons leer uit vorige vernietigende oorloë, maar lyk my die mensdom kry dit net nie reg om in vrede met mekaar saam met leef nie.
Nujeen en haar sussie, Nasrine, se vlug het hulle van Aleppo na Manbij, Jarablus en Gaziantep in Sirië geneem en van daar het die uitmergelende, skrikwekkende tog hulle na Turkye geneem. Van Turkye is hulle op ’n opblaasbootjie na die eiland Lesbos in Griekeland. Op een van die ander bootjies wat dié tog dieselfde dag aangedurf het, was die seuntjie wie se foto wêreldwyd bekend geraak het – van sy dooie klein lyfie wat op die strand lê. Van Lesbos is hulle Athene toe en van daar is hulle deur Macedonië, Serbië, Hongarye, weer deur Serbië na Slovenië, Oostenryk en uiteindelik het hulle in Duitsland aangekom waar hulle vandag woon.
Kan ek my dit voorstel? Ek dink nie so nie. Gaan ek kan deurdruk en aanhou? DIt moet ongelooflike moed verg, maar ek dink as ’n mens weet dood is die enigste opsie tensy jy vlug, dan trotseer jy baie struikelblokke om te bly leef. Selfs al is jy net 15 jaar oud, serebraal gestrem en in ’n rolstoel. Jip, dis Nujeen se storie! So twee weke gelede verloor ek my beursie met geld in, maar die grootste verlies is al my kaarte, insluitende my bestuurderslisensie. Toe ek dit ontdek, slaan ’n paniek my en ek raak yskoud. Dis een van die oomblikke wat jy so verbouereerd raak dat dit vir jou voel asof jy in sirkels rondhardloop en vir jouself herhaaldelik sê: “Don’t panic, don’t panic!” Vir ’n oomblik oorheers dié verlies my nugtere denke. En toe dink ek aan wat ek verloor het. Plastiek. Dis wat ek verloor het. Plastiekkaarte wat ek kan vervang. Dis sowaar nie die einde van die wêreld nie – op die stresskaal registreer dit hoogstens ’n een – indien enigsins, gemeet aan dit wat mense moet prysgee en verloor.
Hoe dikwels dink ons nie dat dit wat met ons gebeur, ’n katastrofe is nie. Die meeste goed is egter nie vergelykbaar met werklike swaarkry of probleme nie. Om jou beursie te verloor, is hoogstens ’n irritasie. My hart gaan uit na die mense van Sirië en al die ander lande waar chaos heers en wat onder groot gevaar na die onbekende vlug, net om daar weer deur sommige medemense met immigrantehaat gekonfronteer te word. Om jou huis, jou geliefdes, jou werk, jou bestaan, jou land en jou drome te verloor en te moet vlug, kan wat my betref nie eens op ’n skaal gemeet word nie. Nujeen se storie laat die meeste van ons se storie soos ’n sprokie klink.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.