Die lewe gaan oor veel meer as geld. ’n Goeie en gelukkige verhouding of huwelik is vir my soos ’n skoen wat pas
Ek het lankal ophou tel hoeveel keer ek al iets op hierdie blad te sê gehad het. Vanoggend het ek die som gemaak: 466 kere het ek probeer om iets sinvols kwyt te raak. Van daardie 466 briewe het baie oor die liefde gehandel. En vandag is dit weer so. Oor dié tema blyk dit kan mense nie uitgepraat raak nie.
In die artikel op bl 28 “Ouderdom is net ’n syfer” skryf Carla van der Spuy oor die liefde tussen mense waar ’n groot ouderdomsgaping ter sprake is. ’n Ouderdomsgaping is ’n relatiewe begrip. Wat vir my ’n klein gaping is, is vir jou dalk ’n groot een. Die vraag in dié artikel is: Kan dit werk? As jy my sou vra, sou ek sê dit kan net so goed of net so min werk as wanneer daar geen noemenswaardige ouderdomsverskil is nie. As jy regtig lief is vir iemand, maak dit nie saak hoe oud die persoon is nie. Of dit nou ’n tweejaar- of 30 jaar-verskil is, liefde is liefde. Maar wat is liefde? Ook dít is ’n relatiewe begrip.
Wat liefde vir my is, is dalk nie liefde vir jou nie. Ek kan nie namens ander praat nie. Ek kan net sê wat dit vir my is en hoekom my verhouding werk. Etlike jare gelede het ek na my asem gesnak toe ’n vrou haar mening oor die saak gee. Haar man was heelwat ouer as sy en uiters welgesteld. Sy het aan ’n jong vrou wat oor ’n nuwe liefdesverhouding gewonder het, dié raad gegee: “Trou vir geld. Liefde kom later.” Ek kan my hoegenaamd nie met haar mening vereenselwig nie. Trouens, ek vind dit (en weer eens – ek praat namens myself) laakbaar. Om ter wille van geld, status en aansien met iemand te trou, is volgens my, oneerlik, gemeen, slu, agteraf en koelbloedig. Wat maak sulke mense as ’n ryker persoon die dag hul pad kruis? Ruil hulle A vir B en dan vir C, ensovoorts in?
Dié vrou het nie. Haar man is dood en sy sit met sy miljoene. Vir haar was dit ’n wen-wen-situasie. Daar is vir my net een rede hoekom jy met iemand in ’n lewensverhouding ingaan. Omdat jy nie sonder daardie mens wil leef nie en omdat jou lewe met hom of haar beter is as sonder hom of haar. Geld is hier nie ter sprake nie. Die lewe gaan oor veel meer as geld. ’n Goeie en gelukkige verhouding of huwelik is vir my soos ’n skoen wat pas. Skoene wat goed pas, skaaf en druk jou nie. Dit neem die vorm van jou unieke voete aan en dis so gemaklik dat jy kan doen wat jy moet of wil doen sonder om aan seer voete te dink. Aan die ander kant kan skoene wat te klein, te groot, te nou, te hoog, te laag of swak gemaak is, jou later teen die mure uitdryf. Jy sit met blase, eelte, liddorings, rugprobleme en raak knorrig. Dan is dit beter om kaalvoet te loop. Ons het nie almal dieselfde grootte voete nie en van ons het lang tone, ander s’n is sulke kortetjies. Party voete is breed, ander is slank. Party voete is mooier as ander – afhangende van wat vir jou ’n mooi voet is. Die punt is, my skoene gaan nie jou voete pas nie. Daar is skoene vir elke soort voet. Wat ook al jou voorkeur is of wat by jou voet pas, sorg net dat jou skoene pas, anders gaan dit jou skaaf en pla. Vir my is dit liefde as jy die regte skoen kry. As jy jou pasmaat vind.
Ek en my geliefde is nou ’n raps langer as 15 jaar bymekaar. Ons skoene het van meet af aan gepas. Vir ons was dit nie belangrik dat ons skoene duur, spoggerig en van ’n bekende handelsnaam is nie. Vir ons was die regte grootte, styl, ontwerp, hoogte, gemak en duursaamheid belangrik. Ons verhouding is soos ingeleefde, sagte leerskoene wat om jou voete vou. Ons vertroetel ons skoene, maak dit skoon en bêre dit versigtig. Ons soek nie ander skoene nie – dis ons go-to-skoene, maar is ook enig in hul soort en pas net aan ons voete. Of jy nou lang tone, kort tone, groot of klein voete het, soek vir jou ’n skoen wat jou voet omvou, ondersteun, beskerm, en met gemak laat loop. Dit maak nie saak hoe die skoen lyk of hoe oud die skoen is nie. Moet net nie ’n skoen aantrek omdat jy wil spog of indruk maak nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.