Die artikel oor waagmoed hierdie week, het my laat nadink oor my eie vrese en watter invloed dit op my lewe het
Jare gelede het ek ’n wyse lewensfilosofie by my seun, toe sewe jaar oud, geleer. Hy het nie by die trappe in die huis afgeloop nie, maar met die trapreling afgeseil. Die trappe was van daardie wat halfpad ’n draai maak en as jy daar sou afval, sou jy meer as net ’n been breek. Toe ek hom die soveelste keer vang dat hy afseil en vertel wat die gevolge kan wees, was sy antwoord aan my: “Ma, ek kan nie my lewe in vrees leef nie.”
Dié woorde het my stilgemaak. Hoeveel van ons leef ons lewe in vrees? Bang vir wat verkeerd kan gaan, bang vir verlies, bang om te faal, bang om te val, bang om beheer te verloor, bang vir die onbekende, bang vir verandering … ’n Mens kan so oorweldig word deur jou vrees, dat jy eintlik net bestaan en nie leef nie. Nie almal van ons gaan Everest uitklim, die volgende Richard Branson word of soos JK Rowling, ná etlike uitgewers vir haar manuskrip “nee” gesê het, ’n miljardêrskrywer word nie. Nie almal van ons is ewe dapper en waag dit om ’n groot risiko te neem nie, hoewel om te lewe op sigself ’n risiko is.
Vrees vir die lewe het verskillende uitwerkings op mense. Die een ding wat vrees wel altyd kan regkry, is om drome te vernietig. Drome word planne as jy waag, en soos my pa jare gelede vir my gesê het toe ek sewe jaar oud was: Jou geld kan opraak, maar jou planne moenie opraak nie. Dit beteken jou drome moenie ophou nie. Ons word wat ons dink. As jy aanmekaar vir jouself sê jy kan iets nie doen nie, gaan jy nie kan nie. Maar as jy sê jy gaan probeer, het jy ’n kans om dit reg te kry. Dit laat my dink aan die uitdrukking: Wat as ek val? En die antwoord daarop: Wat as jy vlieg? Bob Marley het die risiko’s in die lewe vir my goed saamgevat: 32
To love is to risk not being loved in return. To hope is to risk pain. To try is to risk failure. But risk must be taken, because the greatest hazard in my life is to risk nothing.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.