Ek ken nie enige ouer vir wie die blote gedagte om ’n kind te moet begrawe, nie die grootste denkbare nagmerrie is nie.
My pad het al gekruis met twee pare ouers wat elk twee kinders moes begrawe. Hierdie vier mense moes elkeen twee keer deur hierdie onvoorstelbare hel gaan. Ek huil sommer as ek daaraan dink. Twee voorvalle wat wêreldwye nuusdekking gekry het, laat my ook steeds huil as ek daaraan dink.
Op 25 Oktober 2012 is Kevin en Marina Krim se oudste en jongste kind, Lucia en Leo, deur die kinderoppasser in hul huis in New York vermoor. Anthony Maslin en Martie Norris se drie kinders, Mo, Evie and Otis Maslin, het het op 17 Julie 2014 gesterf toe die vliegtuig waarin hulle van Amsterdam na Kuala Lumpur op pad was, oor die Oekraïne afgeskiet is. Ek huil ook as ek die daaglikse beelde van kinders wat in oorloggeteisterde lande sterf, sien. Kinders wat saam met hul ouers uit dié gebiede vlug en in die proses verdrink, laat my ook huil. Ek huil as kinders sterf. En dis ander mense se kinders. Hoe erg moet dit wees as dit jou kind is? Hou jy ooit op huil? Hou jy ooit op verlang? Wanneer kan of wil jy weer lag? Wanneer word jou rou minder? Hou jy ooit op rou? Wanneer pyn jy nie meer nie? Hou die pyn ooit op?
Waldemar en Ira is vandeesweek op ons voorblad en hulle praat onder meer oor die onomkeerbare effek wat die dood van hul seun, Kieran, op hulle het. Hartseer maak dit my, maar die manier waarop hulle voortleef, gee my nie ’n gevoel van algehele verdriet nie, maar tog ’n mate van hoop. Wat Ira onder meer sê, is woorde wat ek hoop vir ouers wat soortgelyke verdriet ervaar, kan help: “Jy kom nooit oor só iets nie, jy leef dit vir die res van jou lewe. Jy leer om jou gebrokenheid te lééf en nie toe te klap en dit te ontken nie. Jy hou aan breek, maar leer om asem te haal in jou gebrokenheid.” Die dood van ’n kind is nie ’n gebeurtenis nie – dis ’n lewenslange reis van oorlewing.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.