As kind was ek dikwels heimlik verlief op sekere rolprentsterre en bekende sangers
Realiteit is nie noodwendig ter sprake in die wêreld van ’n kind nie – die feit dat dié mooie mans my pa se ouderdom of ouer was, was nie ’n faktor nie. Dit was bloot bewondering van ’n afstand af.
Mettertyd, soos jy grootword, ontgroei jy dié bewondering. Tog raak dit jou elke keer as jy lees dat nog een van hulle dood is. Sir Roger Moore was een van hulle. Sy dood (soos sy lewe) het wêreldwyd opslae gemaak. Dis hoe dit werk as bekendes sterf. Ek het gaan google om uit te vind wat die statistiek van lewe en dood is. Wêreldwyd word 15 000 mense elke uur van die dag gebore en 6 316 sterf elke uur. Die meeste van hierdie mense is onbekend.
Kort voor Roger Moore se dood is iemand wat allesbehalwe wêreldbekend was, onverwags dood. Haar naam was Lita, oftewel, Miguelita Sarabia-Germano. Lita was ’n Filippynse vrou, min of meer my ouderdom, wat 20 jaar gelede in Griekeland aangekom het om werk te soek. Die etlike jare wat ek in Griekeland gewoon het, was sy ons huishoudster (met ’n rekenaarwetenskapsgraad). Haar vier dogters (waarvan die jongste ses maande oud was) het sy in die sorg van familie gelaat om in ’n verre land te werk om geld huis toe te kan stuur om haar kinders van ’n goeie opvoeding te verseker. Sy is nie uniek nie – duisende Filippynse vroue is in dieselfde bootjie.
Ek onthou soos gister hoe ek en sy en my kinders mekaar vasgehou en gehuil het toe ons met ons terugkeer Suid-Afrika toe moes groet. Danksy tegnologie het die wêreld ’n klein plekkie geword en ons het met Facebook kontak behou, en ons het mekaar ook vier jaar gelede in Athene gesien. Ons laaste gesprek op Facebook was op 22 Maart hierdie jaar. Tydens my onlangse besoek aan Griekeland het ek die laaste dag (3 Mei) in Athene haar gesig voortdurend gesoek in die groepe Filippynse vroue wat ons op straat teëgekom het. Ek het doelbewus tydens hierdie besoek besluit om geeneen van ons besoek te laat weet nie – dit was ’n tyd wat ek net saam met my geliefde wou deel.
Terug op kantoor, 8 Mei, maak ek Facebook oop en kry die nuus: Miguelita Sarabia- Germano het gesterf. Op 3 Mei 2017. Twee weke later, kry ek weer slegte nuus. Millie, oftewel, Millicent Fisasi, ook min of meer my ouderdom, is ’n kollega wat ek elke dag op kantoor in die gange raakgeloop het. Haar lewe het op 24 Mei 2017 ten einde geloop. Van die 6 316 mense wat wêreldwyd uurliks sterf, is daar waarskynlik een wie se dood die media haal. Of jy nou ’n bekende “sir” is of ’n minder bekende vir die wye wêreld, dood gee perspektief aan die lewe. Lita se laaste Facebook-plasing was op 1 April, net voordat sy ’n beroerte gekry en in ’n koma verval het. Millie was nou die dag nog in die gebou met haar kwinkslae, haar ondeunde lag … Ek skryf hierdie briefie om mense soos Lita en Millie vir oulaas te groet en te sê, jul lewe en dood het dalk nie wêreldwyd opslae gemaak nie, maar julle het saak gemaak. Ons gaan julle mis. Maar ek skryf dit ook om myself daaraan te herinner dat of jy nou bekend of onbekend is, sterf, gaan jy sterf en terwyl jy nog asemhaal, moet jy leef, want ’n leeftyd is nie lank nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.