Wat is dit wat mense verdeel en wat is dit wat hulle laat saamstaan?
Die Ndlovu Youth Choir het onlangs wêreldwyd bekendheid verwerf met hul suksesvolle optrede op die Amerikaanse TVprogram America’s got Talent. Op bl 14 kan jy lees hoe hierdie koor tot stand gekom het en die verreikende impak wat dit op die koorlede se lewens gehad het en steeds het.
In ’n land waar daar ook ongelukkig dikwels ’n gebrek aan samehorigheid is, het hierdie koor vir ongeveer ses weke mense oor alle grense heen saamgetrek en het almal, ten spyte van groot meningsverskille, die koor entoesiasties ondersteun. Dit was goed, mooi, opbouend en het almal diep geraak. Wat my by hierdie week se punt uitbring. Wat is dit wat mense verdeel en wat is dit wat hulle laat saamstaan?
Die Salem-heksejag was ’n reeks vervolgings in koloniale Massachusetts, Amerika, tussen Februarie 1692 en Mei 1693. Meer as 200 mense is van heksery aangekla en 14 vroue en vyf mans is tereggestel. Heksejagte was niks nuuts nie – dit was aan die orde van die dag in Europa in die Middeleeue. Kerkgeleerdes het hekse links en regs geëien, vervolg en verbrand. Vandag beskou ons dié hoofstukke in die wêreld se geskiedenis met afgryse. Maar het heksejagte regtig opgehou?
Die Salem-heksejag is een van koloniale Amerika se mees berugte gevalle van massahisterie en is al menigmaal in politieke retoriek en populêre literatuur as ’n sprekende voorbeeld gebruik om die gevare van isolasie, die klakkelose navolg van mense wat ongegronde en ondeurdagte gerugte as waarheid versprei, religieuse ektremisme, vals en ongegronde aanklagte, en die mislukking van ’n regstelsel uit te wys. Met die werklike Salem-heksejag as agtergrond het ’n geskiedenisonderwyser in Amerika onlangs aan die kinders in sy klas bewys hoe maklik dit is om ’n mens of ’n minderheidsgroep deur gerugte, massahisterie en onkritiese denke te isoleer. Hy het aan die kinders in die klas gesê dat hy in elkeen se oor gaan fluister wie in die eksperiment wat hulle gaan uitvoer, ’n “heks” is en wie nie. Hul doel was om die grootste groep te vorm wat NIE ’n heks in die groep het nie. Met ander woorde – die groep wat die grootste (en uiteraard sterkste) is, sorg onder mekaar dat daar geen heks teenwoordig is nie en hulle stap as die wenners uit die spel.
Die groep of groepe met hekse kry minder punte vir die taak. Die wedywering het begin. Die kinders het hul groepe deur middel van eliminasie begin vorm en sonder enige gronde, net op grond van vermoedens en eie gewin, hekse geïdentifiseer en uit hul groepe gehou. Aan die einde van die les was daar enkele klein groepies en een groot groep. Die onderwyser het gevra dat al die “hekse” hul hande opsteek. Niemand het nie. Niemand was ’n heks nie. Die kinders was verward en het hom beskuldig dat hy die spel opgemors het. Sy vraag was: “Het ek? Of het elkeen van julle net sonder om te dink, geglo wat ek gesê het?”
Sien, die onderwyser het nie vir een kind gefluister dat hy of sy ’n heks is nie. Hy het die storie opgemaak (die gerug versprei, die saadjie geplant) om prakties aan die kinders te illustreer hoe maklik ’n heksejag ontstaan. Sonder enige gronde het vervolging deur massahisterie tot die uitwissing van die “vyand” – die een wat nie inpas nie – gelei. Die illusionêre geloof dat sulke gedrag prioriteit is vir die oorlewing van die groep (die samelewing), is eintlik die paniekbevange uitskakeling van die “ander” sodat die “ek” kan voortleef. In enige samelewing is dit belangrik om krities te dink oor dit wat as die “waarheid” aan jou opgedis word. As jy dink en jou verstand en common sense gebruik, gaan jy moeiliker ’n voorprater klakkeloos napraat en gaan jy moeiliker die “ander” sonder meer verdryf en vernietig. Jy gaan nie ’n heks om elke hoek en draai sien nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.