Talita van Graan se rubriek hierdie week is vir my mooi. Korrel vir korrel, skryf sy, is hoe jy jou geluk bepaal. Dis die “klein dingetjies” in die lewe …
Dit mag ’n cliché wees, maar daar lê wysheid daarin. Ons kyk so maklik die mooi in die lewe mis. Die wêreld is tans nie ’n gawe plek nie – mense stook mekaar op om die “ander” te marginaliseer of gewoon uit te wis. Die slegte nuus kan ’n mens uiters morbied maak, veral as jy net daarop fokus.
Daar is ’n paar artikels in hierdie week se uitgawe wat my gedagtes van die lelike na die mooi en die micro-thrills in die lewe, soos Talita daarna verwys, uitlig. So het die wenke om ’n verhouding te beskerm in die artikel op bl 28 my laat dink aan ’n videogreepskakel wat ek onlangs aan my seun (en my ander seun – my dogter se geliefde) gestuur het. Dit is ’n gesprek met Simon O Sinek – ’n Britsgebore outeur, motiveringspreker en bemarkingskonsultant – wat in ’n neutedop opsom hoekom jou geliefde vir jou lief geraak het. Die konteks van die gesprek gaan spesifiek oor ’n man se optrede teenoor sy vrou in ’n verhouding.
Vandaar die stuur van die skakel, maar dit wat Simon uitlig, het op enige liefdesverhouding betrekking. Dis die moeite werd om op die skakel te klik (Goalcast op Facebook) en self daarna te kyk, maar kortliks kom dit daarop neer dat dit die klein dingetjies in die lewe is wat ’n mens vir iemand lief maak. Simon sê onder meer dat “sy nie lief geraak het vir jou omdat jy vir haar blomme op Valentynsdag gegee het nie”. Sy het lief geraak vir jou omdat jy by die huis gekom het ná ’n wonderlike dag by die werk, terwyl sy ’n mislike dag gehad het. En jy het geluister. Totdat sy dit uitgepraat het. Jy het haar nie halfpad deur die gesprek onderbreek met: “Ja, ja, maar hoor ’n bietjie hoe goed was my dag …” nie. Dis hoekom sy jou steeds liefhet. Dis omdat jy konsekwent in jou liefdevolle optrede met haar is.
As jy iets konsekwent doen, is dit ’n gewoonte. As ’n mens korrel vir korrel op die slegte in die lewe fokus, moet dit jou innerlike beïnvloed. Net soos die omgekeerde waar is. Soos die Amerikaanse basketbalspeler John Robert Wooden in sy leeftyd gesê het: “Dis die klein detail wat belangrik is. Klein dingetjies laat groot dinge gebeur.” Of, soos Winnie the Pooh sê: “Soms neem die kleinste goed die meeste plek in jou hart op.” ’n Klein dingetjie hierdie week wat vir my so mooi was, is in die artikel op bl 26. Maryke Roberts skryf oor ’n winkel wat twee innoverende vroue in Johanneburg begin het. Hulle maak ligte van kalbasse. En raai wat is hul winkel se naam? Dismoi. Is dit nou nie mooi nie?
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.