Terwyl jy hierdie briefie lees, is ek op ’n Griekse eiland. Die eiland Lesbos, om presies te wees.
Kan jy jou dit voorstel? Op ’n idilliese eiland saam met jou geliefde om ’n lang tafel saam met mense wat hou van skryf.
Jip. Ons is deel van die groep mense wat onder die bekwame leiding van Frederik de Jager en Marita van der Vyver meer oor die kuns van skryf leer. Toe ons verlede jaar The Talking Table se skryfkursus geadverteer het, het ek onmiddellik die aand oor ’n glas wyn vir my geliefde voorgestel dat ons dit saam gaan bywoon. Hy was ewe entoesiasties oor die moontlikheid. Maklik was dit nie. Eerstens het ’n mens geld nodig om dit te doen en ek is nie een van die mense wat sommer net kan besluit om na ’n verre land te reis nie. Dit verg vernuf om die geld bymekaar te kry. En, glo my, met die stand van die rand ruil jy ’n vet pak rande vir ’n baie dun pakkie euros.
Om vir ’n lang tydperk weg van die kantoor te wees as jy by ’n weeklikse tydskrif werk, is ook nie eenvoudig nie. Maar, soos wat ’n mens van ’n uitmuntende span kan verwag, het hulle my aangemoedig en gerusgestel dat hulle onder die leiding van Zerelda Esterhuizen, ons adjunkredakteur, die wa deur die drif sou trek. Dankie aan ’n ieder en ’n elk van hierdie wonderlike groep vroue saam met wie ek die grootste deel van my dag deurbring. So, hier is ek en die man saam met wie ek al 13 jaar lank hand in hand loop, vir die eerste keer alleen op reis. Sonder kind of kraai. Met my terugkeer sal ek skryf oor hierdie ervaring. En as jy lus het om dit ook mee te maak, die volgende skryfkursus is in Oktober. Loer gerus op die Facebookblad, The Talking Table, of die webwerf, www.thetalkingtable.com as jy jou droom ’n werklikheid wil maak.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.