Ek het onlangs raakgelees dat dit belangrik is om een dag per week hokaai te roep en te rus. As jy dit nie doen nie, gaan jou lyf die besluit vir jou maak
Diegene wat daagliks met rekenaars werk, se een groot frustrasie is dat die rekenaarspoed mettertyd afneem, tot so ’n mate dat dit soms vries en niks kan doen nie. Van rekenaars se binnegoed weet ek niks, maar wat ek oor die jare geleer het, is dat ’n rekenaar baie soos ’n mens is. ’n Oorlaaide rekenaar sukkel nes ’n mens onder die lading. Jy moet gereeld ou lêers en inligting delete of jou rekenaar oornag defrag sodat onnodige bagasie nie jou rekenaar se spoed vertraag nie.
Nog iets wat ek geleer het, is dat ’n georganiseerde rekenaar baie beter navigeer. Dit voorkom dat jy tyd mors deur na goed te soek wat jy weet op jou rekenaar is, maar nie kan kry nie, omdat daar nie orde is nie. ’n Deurmekaar rekenaar met te veel goeters in sy binnegoed reageer nes ’n mens wat oorweldig word as jou lewe te vol en deurmekaar is. Ons skeep onsself te dikwels af en delete en defrag nie ons lewens gereeld nie. Só verloor ons woema en raak oorweldig deur die alledaagse.
Op bl 28 gee Ansja Ferreira 21 wenke vir woema. Dis in vandag se gejaagde, stresvolle lewe belangrik om dit te lees, want dis wenke wat kan help dat ons nie ook op ’n dag net gaan vries en niks sal kan doen nie. Ek het onlangs raakgelees dat dit belangrik is om een dag per week hokaai te roep en te rus. As jy dit nie doen nie, gaan jou lyf die besluit vir jou maak. Ek moet myself telkens aan my eie raad herinner. As ek agterkom my regterooglid begin spring, ek raak ongeduldig en vinnig geïrriteerd, my energie is min of ek kry ekseem, weet ek dis my lyf wat vir my sê sy is nou oorlaai.
Soos met ’n rekenaar, help dit nie jy delete en defrag net een keer en dink als is nou piekfyn nie. Jy moet dit gereeld doen. Ontklotter is die Afrikaanse woord vir declutter, wat deesdae ’n gonswoord is, maar anders as modeneigings wat elke jaar verander, is dit ’n begrip wat werklik waarde tot ons lewens kan toevoeg. Om te ontklotter is goed, maar die begrip “minimalisme” gee meer betekenis daaraan. Dié wysheid lees ek onlangs raak:
Decluttering is about removing the things we don’t want. Minimalism is about discovering how little we actually need.
Ek hou van die Facebook-blad “becoming minimalist” en kry dikwels waardevolle inligting daarop: Deur minimalisme te kies, verruil ek chaos vir kalmte
Onder hope besittings lê daar dikwels vrees, alleenheid, onsekerheid en minderwaardigheid. Klotter en oormaat is selde die oorsaak van die probleem, dis eerder die resultaat
Once you hit a certain age you become permanently unimpressed by a lot of stuff
Minimaliste verloor nie slaap deur die jongste neigings na te jaag nie
Hoe mors mens R10 000 per jaar? Deur elke dag R27,40 op iets onnodigs uit te gee
Minimalism encourages simplicity
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.