George Bernard Shaw het gesê: Om ’n ma te wees, beteken jou hart is nie meer jou eie nie, dit reis saam met jou kinders waar hulle ook al is
Ons kinders reis al verder van ons af weg en maak verre plekke hul huis. Gelukkig word die wêreld kleiner en ons het tegnologie wat daaglikse kontak moontlik maak.
Ek onthou nog helder hoe ek my kinders op laerskool ná skool na my kar sien aanstap het en hoe ek bykans nie kon glo dié twee mensies is my kinders nie. Noudat hulle volwassenes is en hul eie lewens saam met hul lewensmaats lei, is die gevoel nie minder nie. As ons saam wyn drink en gesels, verwonder ek my aan hulle en leer ek eweneens baie van hulle.
Dis eersdaags Moedersdag. Dis ’n dag wat gemengde gevoelens by mense wakker maak. Ek is mos nou nie gaande oor sulke spesiale dae nie, maar ek is een van die gelukkiges wat my kinders en my ma enige tyd kan bel. Nie almal het hierdie voorreg nie. Sommige ma’s moes al kinders begrawe, ander kinders het ma’s wat nie meer leef nie en sommige verhoudings tussen ma’s en kinders is verbreek of gestrem.
Vir ma’s en kinders wat met hierdie dag sukkel, wens ek goedheid toe. Mag die herinneringe aan jul kinders of jul ma’s net die goeies wees en vir diegene wat moeilike verhoudings het, wens ek heling en vrede toe. Oor mawees is al baie geskryf en gesê. Vir my vat die volgende my ervaring in ’n neutedop vas: Om ’n ma te wees, leer jou dat jy krag het wat jy nie geweet het jy het nie en jy leer om vrese te konfronteer wat jy nie geweet het bestaan nie.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.