Dis Joseph Addison wat gesê het: Reading is to the mind what exercise is to the body.
Kinders wat van kleins af lees, weet dat lees iets is wat jou groot plesier kan gee, maar ook jou horison verbreed. Dis nie net iets wat onderwysers jou op skool dwing om te doen nie, sê Beverly Cleary, ’n Amerikaanse skrywer van kinderen jeugboeke. Op 101 is daar sedert 1950 reeds 91 miljoen van haar boeke verkoop.
My kinders se ervaring van kleuterskool was in Duitsland. Van kleuterskool het ek eintlik niks geweet nie – in my dae is jy gewoon skool toe as jy met jou hand oor jou kop jou oor kon raak, maar dis ’n storie op sigself. Ek het ondersoek ingestel en vir die eerste keer van ’n Montessori-skool gehoor. Wat ek gehoor het, het my beïndruk en ek het my kinders daar ingeskryf. Die Montessori-metode was ligjare verwyder van wat ek op skool ervaar het en my kinders het elke sekonde geniet. Sedertdien weet ek uiteraard ’n bietjie meer van die konsep en is daar etlike Montessori-skole ook ter plaatse. Maria Tecla Artemisia Montessori is op 31 Augustus 1870 in Italië gebore en op 6 Mei 1952 op 81 in Holland oorlede.
Sy het ten spyte van teenkanting van mans in die destydse samelewing, medies studeer. Só mag sy onder meer nie die klas waartydens kadawers gedissekteer is, saam met die mans bygewoon het nie. Die rede: dis nie as toepaslik gesien dat ’n vrou saam met mans na ’n naakte liggaam kyk nie (ek maak dit nie op nie)! ’n Ewe belaglike reël was toe sy as dokter gepraktiseer het en ’n seun (Mario Montessori) uit ’n verhouding met ’n kollega gebore is. Albei ouers was ongetroud. Die probleem was, sou hulle trou, mag Maria nie verder as dokter gepraktiseer het nie (ek maak dit ook nie op nie)! Om ’n lang storie kort te maak, Maria het ná verdere studies en navorsing in die aanvanklike onderrig van kinders met gestremdhede haar onderrigmetode ook vir sogenaamde normale kinders verfyn.
Die hoofelemente van haar opvoedkundige teorie is in The Montessori Method (1912) en in The Discovery of the Child (1948) gepubliseer. Haar metode is gegrond op haar waarneming van kinders wat toegelaat is om vrylik in ’n omgewing te beweeg, waarin hulle elkeen ruimte het om volgens hul eie behoeftes te leer. In haar waarneming het sy tot die slotsom gekom dat kinders se spontane aktiwiteit in hierdie omgewing ’n unieke interne ontwikkelingsproses vir elke kind tot gevolg het. En dat die rol van die opvoedkundige is om die hindernisse in hierdie “natuurlike” ontwikkeling te verwyder en moontlikhede te skep vir elke kind om te vorder en floreer. Haar metode onderstreep die belangrikheid van klein kinders se ontwikkeling volgens hul eie inisiatief en vemoë en laat kinders speel-speel toe om teen hul eie pas te ontwikkel.
In die vroeë fases van die ontwikkelingsmetode leer kinders om hul sintuie te gebruik en namate hulle groter word, leer hulle abstrakte konsepte verstaan deur die ontwikkeling van hul vermoë om te kan redeneer, verbeel en skep. Maria Montessori was ’n vrou voor haar tyd en het uiteraard ook die waarde van lees in kinders se ontwikkeling besef: “Reisstories leer byvoorbeeld geografie, insekstories leer wetenskap en so aan. Die onderwyser kan lees gebruik om kinders aan ’n wye verskeidenheid onderwerpe bekend te stel. ’n Passie vir lees op ’n vroeë ouderdom gee kinders die geleentheid om enigiets te bereik en grense oor te steek.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.