Sommige mense inspireer ’n mens meer as ander. En hierdie mense is dikwels diegene wie se paaie nie glad verloop het nie.
Dis hulle wat weet dat die meeste goeters waaroor ’n mens wroeg op ’n skaal van een tot tien nie eers behoort te registreer nie. Onlangs lees ek die storie van ’n pragtige jong vrou van 27 wat aan kanker dood is. ’n Paar uur voor haar dood in die vroeë oggendure van 4 Januarie het sy lewensadvies aan ons wat nog leef geskryf. Hierdie lewenswysheid sê soveel. Doen jouself die lewensguns en lees Holly Butcher se volledige brief op haar Facebook-blad.
Hier is ’n paar uittreksels: “Dis vreemd om jou sterflikheid te besef en te aanvaar as jy 26 jaar jonk is. Dis gewoon een van die goed wat jy ignoreer. Die dae tik verby en jy verwag dat hulle net gaan aangaan – totdat die onverwagse gebeur. Ek het altyd gedink ek gaan oud word, met plooie en grys hare – na alle waarskynlikheid die gevolg van die wonderlike gesin (’n klomp kinders) wat ek saam met die liefde van my lewe wou hê. Ek wil dit so graag hê dat dit seermaak … Dis die ding omtrent die lewe; dis broos, kosbaar en onvoorspelbaar en elke dag is ’n geskenk, nie ’n gegewe reg nie. Ek is nou 27. Ek wil nie gaan nie. Ek is mal oor my lewe. Ek is gelukkig … danksy my geliefdes. Maar die beheer is uit my hande … Ek wil hê mense moet ophou om soveel oor die klein, betekenislose goed wat hulle stres, te bekommer en onthou dat ons almal ná als dieselfde paadjie loop, so doen wat jy kan om jou tyd waardevol en goed, sonder die twak, te maak.
Ek het die afgelope paar maande baie tyd gehad om oor die lewe na te dink … Die kere wat jy oor simpel goed kerm (iets wat ek so baie hierdie laaste paar maande gesien het), dink aan iemand wat regtig deur ’n probleem in die gesig gestaar word … Jy is dalk in spitsverkeer vasgevang, of jou pragtige kinders het jou uit die slaap gehou, of jou haarkapper het jou hare te kort gesny … jy het selluliet en jou maag ‘wiebel’. Laat daai twak gaan. Ek sweer jy gaan nie aan daardie goed dink as dit jou tyd is om te gaan nie. Dit is als so niksbeduidend as jy na die lewe in die geheel kyk. Ek sien hoe my lyf voor my oë wegkwyn en daar is niks wat ek daaraan kan doen nie en al waarvoor ek nou wens, is dat ek net nog een verjaardag of een Kersfees saam met my geliefdes kan hê, of net nog een dag saam met my lewensmaat en ons hond. Net nog een.
Ek hoor hoe mense kla oor hoe sleg hul werk is of hoe moeilik dit is om te oefen – wees dankbaar dat jy fisiek in staat is om dit te doen. Werk en oefening lyk na sulke niksseggende goed … totdat jou lyf jou nie toelaat om een van die twee te doen nie. Waardeer jou gesondheid en jou werkende liggaam – selfs al is dit nie jou ideale grootte nie. Pas dit op. … werk net so hard daaraan om jou emosionele en geestelike geluk te vind. Kerm minder, mense! … En help mekaar meer. Gee, gee, gee. Gee jou geld uit op ervarings. Probeer om die oomblik te geniet eerder as om dit deur ’n skerm op jou foon vas te vang. Staan vroeg op en luister na die voëls terwyl jy die mooi kleure sien wat die son maak soos dit opkom.
Luister na musiek … luister regtig. Musiek is terapie. Oud is beter. Druk jou hond. Ver van hier gaan ek dit mis. Praat met jou vriende. Sit neer jou foon. Reis as dit jou droom is. Werk om te leef, moenie leef om te werk nie. Eet die koek. Met zero skuldgevoel. Sê nee vir die goed wat jy nie regtig wil doen nie. Moenie onder druk wees om te doen wat ander mense dink ’n vervulde lewe is nie. Sê vir jou geliefdes elke keer as jy die kans kry hoe lief jy vir hulle is En een laaste gedagte, as jy kan, doen ’n goeie daad en skenk gereeld bloed. Bloedskenkers (meer sakkies as wat ek kon tel) het my gehelp om ’n ekstra jaar te leef – ’n jaar waaroor ek vir ewig dankbaar sal wees dat ek dit op aarde met my familie, vriende en hond kon deurbring. ’n Jaar waarin ek van die beste tye van my lewe gehad het. … Tot ons weer ontmoet.” Soos ek sê, sommige mense inspireer ’n mens meer as ander.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.