ONTHOU Die uitgawes van 25 Maart en 1 April 2016 smelt saam in hierdie dikker uitgawe wat vir twee weke op die rakke sal wees. Die volgende uitgawe is dié van 8 April 2016 en sal vanaf 4 April op die rakke wees.
Is dit moontlik om jouself gelukkig te dink? JB Roux ondersoek hierdie vraag in dié uitgawe en het met die skrywer Pieter van Jaarsveld gesels om meer uit te vind oor sy boek: Dink jouself gelukkig. Is dit nie maar eintlik die een ding waarna ons almal streef nie – om gelukkig te wees?
Ek het al voorheen genoem dat pyn en plesier hand aan hand gaan. As jy net plesier ervaar, gaan jy nie weet wat pyn is nie en omgekeerd. En albei ervarings is deel van menswees. Die kuns is om te midde van pyn gelukkig te wees. En met pyn bedoel ek dit in die breë sin van die woord. Ek verwys meer na geluk ten spyte van dinge wat met ‘n mens gebeur en omstandighede waarin jy jou bevind. Uiteraard gaan jy van geen hulp wees as jy vir iemand wat erge emosionele trauma deurgaan, sê om in dié situasie gelukkig te wees nie.
Te midde van trauma is geluk die laaste ding waaraan jy dink. Dit is eers as jy trauma begin verwerk, aanvaar en daarmee saamleef wat jy kan begin dink aan iets wat steeds geluk in jou lewe gee. Dit gesê, dink ek ons laat te dikwels toe dat alledaagse gebeure, omstandighede en stres ons denke oorheers. Almal van ons ervaar op ‘n daaglikse basis dinge wat ons onder meer kwaad, bang, hartseer, gespanne, bekommerd en moedeloos maak, of dit nou ‘n ongelukkige verhouding, finansiële probleme, moeilike werksomstandighede of werkloosheid is. Dit is realiteite wat ons nie kan wegdink nie, maar as ons toelaat dat dit ons gedagtes heeltyd beheer, is daar gewoon nie lig aan die einde van die tonnel nie.
Dis een groot swart gat waarin ‘n mens jouself kan bevind. Ek lees in JB se artikel dat Pieter sê: “Daar gaan daagliks 60 000 gedagtes deur ‘n mens se kop – bykans 70% daarvan is negatief. Dis hoekom ons op positiewe gedagtes moet fokus.” Dít is iets om in gedagte te hou. Negatiwiteit is nie ‘n eienskap wat my definieer nie, maar so ‘n paar weke gelede lê ek helder oordag op ons bed onder ‘n kombersie en tob. My geliefde kom van die gim af en kry my daar in my fetale posisie. Wat gaan aan? wil hy weet. Ag, ek kry myself net so ‘n bietjie jammer, sê ek. Nou wat kan ek doen om dit vir jou beter te maak? wil hy weet. Hy is ten volle bewus van die eksterne faktore wat my gedagtes oorheers en hy wil dit fix.
Die punt is, hy kan die liefdevolle mens wees wat hy is en dit wat my pla probeer wegvat, maar hy kan nie. Net ek kan dit doen. Dis toe ek die Sondagoggend in die stort inklim wat ek dit regkry om my kop te draai. Met die warm druppels op my lyf kyk ek by die stort se groot vensters in die tuin uit en besef opnuut hoe gelukkig ek is om ‘n mens in my lewe te hê wat my liefhet met al my geite, hoe gelukkig ek in ons lekker huisie is, hoe gelukkig ek is dat my twee kinders gawe grootmense is, hoe gelukkig ek is om onder ‘n stort op twee bene te kan staan en uitkyk na die kalmerende groen van ons mooi tuin.
En net daar besluit ek om die persoon wat my gedagtes oorheers en beheer nie in die veilige en beskutte omgewing van my huis toe te laat nie. Ek laat hom letterlik toe om by my voordeur in te stap en my te kom teister. Hoekom? Ek gaan dié persoon gewis nie uitnooi na my huis toe nie – dit is my persoonlike ruimte en ek is baie selektief oor die mense met wie ek dié ruimte deel. Waarom maak dié persoon oor wie ek wroeg, hom in my kop tuis? Omdat ek dit toelaat. Ek maak ‘n kopskuif en jaag hom letterlik uit my kop. Hy is nie welkom nie. Nie in my huis nie en nie in my kop nie.
Ek het al agtergekom dat dit vir my baie goed is om fisiek iets te doen as daar mense of goeters in my kop ronddraai wat my pla. Ek besluit terstond om dinge in die huis te doen en pak kaste reg, skuif meubels en verhang skilderye. Met ‘n glas wyn in die hand sit ek en my geliefde die aand op die stoep en gesels. “Ek het hom uit my kop gedink,” sê ek. “Ek kan dit sien,” sê my geliefde. Is dit moontlik om jouself gelukkig te dink? Ek dink so.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.